Die aantal kinders wat aan die afgelope skoolvakansieprogram van die Caledon-biblioteek, in samewerking met die Caledon-museum en die departement van sport, kuns en kultuur, deelgeneem het, is ’n klinkklare bewys van die sukses en gewildheid van hierdie program.
Toe die program 15 jaar gelede begin is, het destyds gemiddeld nege tot 15 kinders deelgeneem.
Tydens die onlangse program wat van 23 tot 27 September aangebied is, was daar gereeld meer as 70 kinders per dag, met 79 die meeste op een dag.
“Aangesien September Erfenismaand was, het baie van die aktiwiteite oor erfenis gehandel, soos die speel van inheemse speletjies, ’n skattejag in die veldblommetuin, asook ’n begeleide staptog deur die geskiedkundige Meulstraat.
“Dit is deur Marlon Sauls van die museum aangebied,” sê Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek.
“Almal was dit eens dat die program nie net pret was nie, maar ook leersaam.”
Sauls sê die kinders het veral die staptog deur die veldblommetuin na afloop van die speletjies baie geniet. Tydens die staptog moes hulle inheemse plante identifiseer en agterna is ’n interessante inligtingsessie aangebied, waar vrae beantwoord is.
Dit was ook interessant dat heelwat ouers aan verskeie van die aktiwiteite deelgeneem het.
Van Wyk en Sauls het hul opregte dank uitgespreek teenoor Caledon Spar wat elke dag toebroodjies, sap en vrugte aan elke deelnemer voorsien het, asook aan USave en Caledon Seconds vir hul borgskap.





