Rugbyafrigters het behoorlik aan die Springbok-hulpafrigter Deon Davids se lippe gehang toe hy ’n werksessie by sy alma mater, Albert Myburgh Sekondêr in Bredasdorp, aangebied het.


Deon Davids, die Springbok-rugbyspan se hulpafrigter, het onlangs na sy alma mater, Albert Myburgh Sekondêre Skool in Bredasdorp, teruggekeer om van sy kosbare kennis met plaaslike rugbyspelers en -afrigters te deel.

Bramwell Signeur, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê dit was ’n absolute eer en voorreg om Davids – wat gehelp het om die Bokke na nóg ’n Wêreldbeker-oorwinning te lei – as gas by die skool te ontvang.

“Die hoogtes wat Deon Davids, ’n oudleerder van ons skool, bereik het, bewys dat daar wel goeie dinge uit ons skole kan kom. Ons is trots op hom en dankbaar vir die tyd wat hy met ons spandeer het.

“Die boodskap wat hy gelaat het, is dat ons hier is om te dien. Ek glo hy het nie net die onderwysers en leerders gemotiveer nie, maar ook ons as die beheerliggaam sowel as die hele gemeenskap,” het Signeur bygevoeg.

Davids het nie net die skool se prysuitdeling bygewoon nie, maar het ook Saterdag 12 Oktober ’n spesiale werksessie vir rugbyafrigters en -spelers van Bredasdorp en die omliggende omgewing aangebied.

“Dit was baie leersaam en die afrigters het dit goed ondersteun,” het Signeur gesê.

Daar was ook groot opwinding toe klubs en skole wat deel van die werksessie was balle, skoene en klere van Scrum5 ontvang het.

“Baie dankie aan Deon Davids, sy assistent Lindsay Weyer en Andrew Daniels van die borge, Scrum5,” het Signeur afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article