Die Caledon-biblioteek, in samewerking met die Caledon-museum, het Donderdag 10 Oktober ’n baie suksesvolle borskankerbewusmakingsdag aangebied.
Esther Möller was een van die gassprekers en het die verhaal van haar kankerreis met die gaste gedeel. Esther se verhaal was openhartig, aangrypend, emosioneel en inspirerend. Dit was duidelik dat haar sterk geloof haar deur hierdie moeilike reis gedra het. Dit was ook ’n verhaal van hoop, want Esther het beklemtoon dat daar altyd hoop is.
Naomi Philander van KANSA het ’n insiggewende praatjie oor borskanker gelewer. Sy het verskillende soorte borskanker bespreek, die simptome daarvan en die belangrikheid van gereelde maandelikse selfondersoeke van die borste beklemtoon. Borskanker is die mees algemene soort kanker onder Suid-Afrikaanse vroue, gevolg deur servikale kanker, kolorektale kanker, kanker van die baarmoeder en longkanker.
Naomi het ook voorbeelde van gebreide borste gewys wat gebruik kan word deur vroue wat ’n mastektomie ondergaan het voordat hulle rekonstruktiewe chirurgie kry.
Yvette Herbst, assistentdirekteur van biblioteekdienste, het die kers van hoop aangesteek en daarna spontaan haar verhaal van kolorektale kanker met die gaste gedeel.
Wildene Bosman het sangitems gelewer en Gerhard van Wyk van die biblioteek en twee YeBoneers van die biblioteek het ’n inspirerende dans opgevoer.
Gaste kon van KANSA se aanbod vir borsondersoeke gebruik maak en Right to Care, ’n gesondheidsorganisasie sonder winsbejag, het bloeddrukmetings en suikertoetse aangebied. Ligte verversings is ook aangebied.
Kontak KANSA by: Tolvry: 0800 22 66 22, die KANSA-kantoor by 021 873 6358 of Naomi Philander per WhatsApp by 061 209 9426. Besoek ook die webtuiste by www.cansa.org





