Party inwoners in die Theewaterskloof-munisipale gebied sit steeds sonder elektrisiteit en inwoners raak nou moedeloos. Inwoners van Grabouw het hulle tot die Grabouw-Eskom-WhatsApp-groep gewend vir hulp en van hulle kla hulle is al van die storms in Mei af sonder elektrisiteit en kry geen antwoorde nie.
Iemand het selfs op die groep melding gemaak van verwysingsnommers en al die kommunikasie wat hulle al vir amper ‘n maand kry, is: “We are aware of your fault and a technician will be dispatched during working hours.”
“Dis belaglik – ons kan nie meer so aangaan nie. As ons nie ons rekening betaal het nie, kan ek dit verstaan, maar ons betaal nog elke maand getrou,” het ‘n beswaarde inwoner, wat twee kinders op skool het, vertel.
Selfs by die R43 naby Salandra sit boere steeds sonder krag en moet hulle van alternatiewe metodes gebruik maak om krag te kry.
“Gelukkig het ons sonkrag, maar ons maak ook staat op Eskom. As dit reënerige dae is, is dit nie altyd moontlik vir ons om genoegsame krag met die sonpanele in te win nie,” het ‘n boer gesê.
Wat die inwoners eintlik onthuts laat, is dat Eskom nie ag slaan op hul klagtes nie.
“Al wat ons kry, is ‘n saaknommer en ‘n bewys dat die fout aangemeld is en dat hulle daaraan sal werk. Nêrens hou iemand ons op hoogte hou oor hoe lank ons nog sonder krag sal sit nie.”
Volgens Eskom se nuutste kommunikasie oor die hersteltydperk in die Overberg-gebied gaan hulle nog die datums aankondig vir die herstel van elektrisiteitstoevoer in die Hemel-en-Aarde-vallei en ook in die Malgas-omgewing.
Hulle vra ook gebruikers “moet geduldig wees”.


