Die voormalige eiendomsagent Amy Neethling van Bredasdorp, wat beskuldig word van miljoene rande se bedrog, het Donderdag weer in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.

Neethling, wat tans op waarskuwing vrygelaat is, staar bedrogaanklagte in die gesig wat verband hou met beweerde diefstal van geld uit ‘n bejaarde weduwee se bankrekening, asook die beweerde ongemagtigde verkoop van haar eiendomme. Die besonderhede van die saak is deur IRS Forensiese Ondersoeke ondersoek, wat namens die klaagster optree.

Die saak is tot 7 Augustus uitgestel, wanneer dit na die Streekshof oorgedra sal word – ‘n aanduiding van die erns en omvang van die beweerde oortredings.

Bronne vertel bykomende aanklagte teen Neethling kan dalk verwag word en ander diefstal- en bedrogsake kan moontlik by hierdie saak gevoeg word.

Die bejaarde slagoffer, wat boonop ‘n weduwee is, is volgens die klagstaat deur die beskuldigde finansieel benadeel.

Die volle omvang van die finansiële skade wat sy gely het, is nog nie in die hof bekendgemaak nie.

Hermanus Times het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) genader vir nog inligting, maar teen druktyd is nog geen formele verklaring oor die aanklagte teen Neethling uitgereik nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article