“Trou is nie perde koop nie” is ‘n bekende Afrikaanse idioom. Dit is gewis ook nie iets om oor te lag nie, maar as dit ‘n agterstevoorbruilof is, mag ‘n mens maar lag. As dit dan boonop ‘n dubbele agterstevoorbruilof is, mag ‘n mens nog harder lag.

Die inwoners van Heidehof Tehuis vir Bejaardes in Caledon het koppe bymekaargesit om planne te maak vir hul geldinsameling en het met die briljante idee van ‘n agterstevoorbruilof vorendag gekom.

Nes met enige ander bruilof moes baie voorbereidings vir hierdie groot dag gedoen word. Rolle moes ingedeel word, dialoog moes geleer word, kostuums moes uitgesorteer word en hulle moes met die “buite-akteurs” – gemeenskapslede – skakel, maar alles is met groot opgewondenheid gedoen.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek. Schatschi Eufesia Nootvas (‘n musiekjuffrou by die parlement om valsheid uit te roei) en Dalidius Herculus Topnaar (‘n mynwerker wat ge-board is nadat hy die mynkanarie gebraai het) asook Frikkirina Ossewania Splitter (‘n balletdanseres wat met elke rugbywedstryd die spelers al dansende op die veld lei) en Sandrickus Muscleman Moermy (‘n uitsmyter by Heidehof se Outoppieklub) kon uiteindelik in die eg verbind word. Soos te verwagte was daar natuurlik ‘n beswaarmaker of twee, maar hulle is sommer gou op hul plek gesit.

Ná die seremonie is troufoto’s geneem voordat die egpare en hul gevolg by die onthaaltafel aangesit het. Regtig agterstevoor het die gaste sommer tydens die huwelik­seremonies al begin eet aan die heerlike kos wat in peuselboksies voorgesit is, en die vonkelwyn, wyn en vrugtesap wat op elke tafel was, ook geniet.

Die gas-“heer” Dolores Prinsloo met die troubeplanner, Fana de Wet.

Fana de Wet was die troube­planner en haar ma, Dolores Prinsloo, was die “gasheer”. Maar tannie Dolores was die eintlike dryfveer agter hierdie ­wonderlike opvoering. Fana sê: “Dat my ma

op 94 die moed van haar oortui­ging gehad het om weer ‘n konsert aanmekaar te sit – by Heidehof, nogal – bly prysens­waardig en met genade onbeskryflik groot. Elke karakter is fyn uitgesoek, kleredrag is sorgvuldig beplan, liedjies is met haar musikale oor uitgesoek en kos, tafels en drinkgoed is fyn beplan. Ek is as troubeplanner ingespan en het dit terdeë geniet. Die mooiste van die hele konsert was die spontaniteit waarmee die inwo­ners van Heidehof elke karakter hul eie gemaak het.”

Esther Möller, die uitvoerende bestuurder van Heidehof, sê: “Dit was ‘n wonderlike konsert waar nie net lekker gelag is nie, maar wat ook wys ons inwoners kan nog so baie tot die gemeenskap bydra.”

Dat al die gaste, onder wie die filmmaker en regisseur F.C. Hamman en die bekende ­akteurs­- paar Carel Trichardt en Petru Wessels, die konsert terdeë geniet het, was duidelik uit die skaterlag en die luide applous wat telkens uitgebreek het. Aan Hermanus Times sê Petru: “Dit was werklik ‘n puik konsert en ons het dit verskriklik geniet.”

In ‘n wêreld waar so baie dinge deesdae redelik agterstevoor is, was hierdie Agterstevoorbruilof net die regte medisyne, want almal kon vir ‘n rukkie net ontspan en heerlik lag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article