Kort nadat die berig oor die Caledon-sportveld verlede week in Hermanus Times verskyn het (“Callies crisis deepens”, Hermanus Times, 11 Maart) is die koerant oorval met oproepe van ander dorpe wat glo ook met onvoldoende sportgeriewe sukkel.
Die Pineview-sportveld in Grabouw het wel aandag gekry en die destydse burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, Mary Liebenberg, het die sooispit-seremonie van die sportterrein op 7 Februarie 2024 behartig. In Februarie daardie jaar het die TWK-munisipaliteit in sy nuusbrief bevestig dat die projek van R8,5 miljoen ‘n mylpaal en ‘n hoogtepunt van jare se beplanning en samewerking is. Liebenberg het by die geleentheid gesê dit is ‘n eer om deel van die projek te wees.
“Dit is wonderlik as ons ‘n projek kan sien realiseer, maar vir my is die beste deel dat ons gemeenskappe werk sal hê en mense kos op die tafel sal kan sit. Dit is ook wonderlik om te hoor dat die munisipaliteit plaaslike subkontrakteurs sal aanstel en konstruksiemateriaal plaaslik – in Grabouw – sal koop. Dit beteken dit is ‘n groot belegging in Grabouw, ons mense en ons sakeondernemings,” het sy gesê.
Die Theewaterskloof-munisipaliteit het bevestig die projek het oor die opgradering van die veld gegaan en die Pineview-sportterrein het nie ‘n pawiljoen gehad nie. “Die projek is nie die opgradering van ‘n stadion nie. Daar was nog nooit ‘n stadion op daai perseel nie. Die raad het fase 1 vir die opgradering van die sportvelde goedgekeur. Die munisipale infrastruktuur-toelaag (MIG) het net meer as R7,8 miljoen oor drie jaar vir die projek bewillig. Werk aan die projek het tot 2025 geduur en tans kyk die raad na alternatiewe om die projek verder te neem,” het die munisipale bestuurder Walter Hendricks, gesê.
Volgens van die klubs in die dorp kan hulle wel op die Pineview-sportterrein oefen, maar hulle kan nie wedstryde daar speel nie. Een van die voorsitters van die klubs het bevestig dat die veld nie op peil is nie. “Ons speel egter nie wedstryde op Pineview nie, want tegnies is die veld nog nie reg nie. Nog heelwat uitstaande dinge moet gedoen word.”
Nog ‘n klub wat voel sy versoeke vir die opgradering van hul sportterreine het op dowe ore geval, is Riviersonderend. Niks het van die beloftes gekom om die pawiljoen op te gradeer nie. Die pawiljoen het glad nie aan die veiligheidsvereistes voldoen nie en sou glo opgegradeer word. “Inteendeel – hulle het eerder die pawiljoen verwyder. Nou moet die mense rondom die veld staan en nie net is die veld nie op peil nie, maar die toiletgeriewe kan ook nie gebruik word nie. Maar wat ons nog erger onthuts laat, is die feit dat as ons die veld wil gebruik, moet ons die volle tarief betaal,” het een van die inwoners gesê.
Hendricks het gesê die munisipaliteit erken die belangrike rol wat sport in die bou van sterk en gesonde gemeenskappe speel. “Die proses is tans in sy finale stadium vir die toekenning van ‘n tender ter waarde van R1 017 888,52 vir die opknapping van die pawiljoen en kleedkamers by die Caledon-sportterein. Hierdie projek sal die herstel van die pawiljoen se dak insluit en is deel van voortgesette pogings om die stadion vir spelers en toeskouers te verbeter.” Volgens hom werk die munisipaliteit tans onder ‘n finansiële herstelplan wat beperkings plaas op nuwe uitgawes en bepaal watter projekte goedgekeur kan word. “In hierdie stadium bly die fokus op die instandhouding en verbetering van bestaande geriewe binne die beskikbare finansiële hulpbronne. As deel van die verbintenis en ondersteuning sal die munisipaliteit voortgaan om met alle sportsektore te skakel en die samewerking met sportforums en -liggame te versterk om toegang tot die geriewe en infrastruktuur te bied.”





