Die deelnemers aan die Klein Ovies-modeparade. Die onderwyseres Elsje Müller is voor, derde van regs.

Wanneer die leerders en personeel van Klein Ovies ‘n geleentheid aanbied, doen hulle dit met oorgawe. Die klinkklare bewys hiervan was die graad 7-modeparade wat Vrydag 6 Maart in die skoolsaal aangebied is.

As deel van die gr. 7’s se skeppende kuns moes hulle vir visuele kuns uitrustings skep wat deel van hul assessering uitgemaak het. Wat dié uitrustings besonders gemaak het, was dat dit van herwinbare produkte gemaak is. Alle beplanning, ontwerpe asook watter materiaal gebruik gaan word, moes in die leerders se klaswerkboeke aangeteken word. Hulle het wel na bekende ontwerpers se klere gekyk vir inspirasie.

Elsje Müller, hul skeppendekunsonderwyser, sê: “Die hulpbronne was beperk en hulle moes planne maak as deel van kritiese denkvaardighede. Toe ‘n karton met uitrustings ‘n dag voor die tyd per ongeluk weggegooi is, moes die betrokke span vinnig ‘n plan maak, en hulle hét. Al die kinders was ongelooflik en baie kreatief en het lekker saamgewerk.”

Agt spanne het aan die modeparade deelgeneem. Elke span moes self hul twee modelle en musiek kies. Die hele skool, asook die pre-primêre leerders, is genooi om die besondere modeparade by te woon. Die atmosfeer was feestelik en al die spanne is luid aangemoedig en deur hul medeleerders toegejuig.

“Ek is so trots op hulle almal,” sê Müller. “Hul spanwerk, samewerking, kommunikasie en kritiese denkvaardighede was uitstekend. Ons gaan dit gewis volgende jaar weer doen.” Die leerders het ook verskeie musiekitems gelewer.

Vir die beoordelaars Catherine Matthee, ds. Annamari De la Harpe van Greyton en Mitzi Buys van Hermanus Times was dit omtrent ‘n moeilike taak om die wenners aan te wys. The Celebs het met die louere weggestap, The Cheerleaders was tweede en Red Carpet is aangewys as die span met die beste gees.

Al die spanne was met die sprankelende aanbieding en kreatiewe uitrustings wat vertoon is ware wenners.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article