Gevangenesse van Helderstroom-gevangenis in hospitaal oor kookwater.

‘n Ernstige begrotingstekort het talle korrektiewe beamptes by die Helderstroom Korrektiewe Sentrum in die Wes-Kaap sonder vervoer na hul werk gelaat en dreig om ‘n reeds kritieke personeelkrisis by dié landelike fasiliteit te vererger.

Wat die probleem nog erger gemaak het, is leerders wat tydens die begin van die skooljaar ook nie by hul betrokke skole uitgekom het nie. “Ons het op 18 Desember verlede jaar ‘n brief van die departement korrektiewe dienste gekry waarin ons verwittig is die departement gaan nie meer vervoer na die werk of skool verskaf nie,” het een van die werknemers gesê. Die kennisgewing het die amptenare verder ingelig dat die nuwe reël van 1 Januarie tot 31 Maart sal geld aangesien die departement te veel aan vervoer bestee het.

Die werknemer het ook gesê met die opening van die skool was dit behoorlik chaos. “Ons moes van private vervoer gebruik maak om leerders by hul betrokke skole te kry.” Maar volgens die bron is nuwe planne gemaak vir die kinders, maar die personeel moet steeds sukkel.

Met die probleem wat net erger en erger word, het die Openbaredienswerkersvakbond (PSA) ‘n dringende beroep om onmiddellike finansiering gedoen nadat die bestuur van die korrektiewe sentrum, wat op ‘n plaas tussen Caledon en Villiersdorp geleë is, aan personeel bevestig het dat die sentrum nie sy volle begrotingstoekenning vir vervoerdienste vir die 2025-’26-boekjaar ontvang het nie.

Hierdie besnoeiings raak amptenare wat daagliks van omliggende dorpe soos Caledon, Hermanus en Villiersdorp na Helderstroom se fasiliteite moet reis. Sonder voldoende vervoerfinansiering kan hierdie onmisbare werknemers nie hul poste bereik nie. “Baie mense moet nou ander planne maak; van geleenthede gebruik maak wat nie altyd betroubaar is nie en selfs ryloop.”

Dit bring weer ander probleme, want dan kom hulle laat of daag glad nie by die werk op nie, wat hulle dan hul werk kan kos, sê die bron. Volgens die vakbond het die bestuur reeds by die nasionale kommissaris aansoek gedoen vir toestemming om die erg verminderde begroting te oorskry.

Hierdie aanvanklike besnoeiing is aan die begin van 2025 ingestel. Die aansoek is egter steeds nie goedgekeur nie ten spyte daarvan dat genoeg tyd reeds verstryk het om alternatiewe oplossings te soek.

Die PSA waarsku dat die impak van die situasie veel verder strek as net die onmiddellike vervoerkwessie. Amptenare wat onontbeerlike dienste aan die reeds onderbemande fasiliteit lewer, sal moontlik nie vir diens kan aanmeld nie, wat sekuriteit en daaglikse bedrywighede in die gedrang kan bring.

Die PSA het die verantwoordelikheid vir enige negatiewe gevolge vierkantig voor die nasionale kommissaris geplaas en beklemtoon dat die situasie steeds opgelos kan word indien die nodige geld sonder verdere vertraging beskikbaar gestel word.

Die begrotingskrisis by Helderstroom weerspieël ‘n breër finansiële uitdaging, wat die departement korrektiewe dienste in Suid-Afrika ervaar, met onvoldoende finansiering wat tans ‘n knelpunt by verskeie korrektiewe geriewe landwyd is.

Hermanus Times het ook bevind dat kwotasies van private busdienste op die oomblik verkry word om beamptes by hul werk te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article