Die rugbyliga het nog nie eens begin nie, maar spanne in die Overberg is al hard besig om te oefen om vanjaar die beste in hul streek te wees.
Saterdag 28 Februarie lei alle paaie na die Caledon-sportterrein wanneer die vierde Overberg Challenge weer plaasvind.
Volgens die organiseerders, Nissen Holdings, gaan hierdie gebeurtenis net van krag tot krag. “In 2023 was daar 3 000 toeskouers wat die unieke sportgebeurtenis bygewoon het. Verlede jaar het meer as 6 000 toeskouers na die sportveld gestroom,” se die organiseerders.
Wat die sportgebeurtenis so uniek maak, is dat spanne van die Overberg om die beker meeding. Safcol van Grabouw het al twee jaar agtereenvolgens as die wenner uit die stryd getree. Vanjaar is dit Botrivier, Safcol, Hawston en Stanford Universals wat om die beker gaan meeding. Vier uitnodigingspanne gaan in die voorwedstryde speel.
“Ons doel met die Overberg Challenge is nie net om Overberg-klubs die geleentheid te gee om hul talente voordat die seisoen begin, bloot te stel nie, maar ook vir jong rugbyliefhebbers om hul plaaslike helde in aksie te sien,” sê die organiseerders.
• Nog ‘n reeks waar twee plaaslike spanne gaan deelneem, is die tweede Ebrahim Patel-gemeenskapsbeker, wat in George gaan plaasvind. Die toernooi, wat van 2 tot 6 April plaasvind en waar agt spanne teen mekaar gaan meeding, is verlede jaar vir die eerste keer gehou en volgens die organiseerders was dit so suksesvol dat dit nou ‘n jaarlikse instelling gaan wees.
Die twee spanne van die Overberg wat aan die toernooi gaan deelneem, is Safcol van Grabouw en Botla Fire, wat verlede jaar ook die wenners van die Overberg-streek was.
Die ander spanne wat om die beker gaan meeding, is die Heidelberg-rugblyklub, die Bridgton-rugbyklub van Oudtshoorn, die Robertson-rugbyklub, die verdedigende kampioen PE Harlequins, die Kruisfontein- rugbyklub en die Crusaders-rugbyklub – ook van Port Elizabeth.





