Die begin van ‘n nuwe skooljaar word altyd met opgewondenheid begroet. Leerders sowel as onderwysers is ná ‘n lang somervakansie uitgerus en sien uit na die bedrywighede van die jaar.
Ons Winkel Caledon, in samewerking met Helpende Hand, het verlede Maandag (12 Januarie) geskenkpakkies aan die onderwysers van die Hoër- en Laerskool Overberg – ook bekend as Ovies en Klein Ovies – oorhandig.
Retha Beukes van Ons Winkel Caledon het aan Hermanus Times genoem: “Ons het in samewerking met Helpende Hand ‘n klein projek vir die skole van stapel gestuur waarin ons ‘n ‘oorlewingspakkie’ opgemaak en aan die onderwysers oorhandig het om hulle vir die 2026-skooljaar aan te moedig en voorspoed toe te wens.”
Dié oulike pakkies het onder meer ‘n Kit Kat-sjokolade ingesluit vir wanneer die onderwysers ‘n “breek nodig het”, sneesdoekies om iemand se trane af te vee, Jelly Babies vir wanneer hulle dalk voel om iemand se kop af te byt en ‘n pleister as dinge rof raak.
Lindie Strydom, bekend vir haar televisierolle in Egoli en Suidooster, was die gasspreker en het gesê dit is vir haar ‘n groot voorreg om die 2026-skooljaar met die span van Helpende Hand en die personeel van die Hoër- en Laerskool Overberg in Caledon te open met die tema “Menslikheid in ‘n veranderende wêreld”.
“Hierdie tema is al gebore toe ek so op die stert-kant van covid by ‘n skool begin werk het. Ek het die impak van die afstand en afsondering beleef en wou die gemeenskap op ‘n manier probeer nader trek. Vandag is dit die geweldige druk om by die veranderings (veral tegnologie) by te bly wat ons menswees, menslikheid en medemenslikheid bedreig,” het Lindie gesê.
“Ek het nie antwoorde of die een of ander ‘spoeg-en-plak’-resep of metode nie, maar het begin om stories en voorbeelde te versamel van gewone onderwysers wat ons op verskillende maniere herinner hoekom ons juis op hierdie mens-tot-mens-roeping geantwoord het … mense wat kies om te dien op hierdie unieke plek waar mens-kapitaal (onderwysers) mens-potensiaal (die jeug) ontmoet.
“Op die ou einde is skole se kurrikulum, handboeke, struktuur en formaat almal maar min of meer dieselfde – iewers lui ‘n klok; almal hou pouse.
“Dis jou mense wat die verskil maak. Mense gee lewe aan groot, ou geboue, spoggerige geriewe en 200 dae per jaar se onderrig. En dis ons menslikheid wat deel word van die stories agter die lysie prestasies op iemand se CV – stories wat gewoonlik iewers ‘n sinnetjie insluit soos ‘daar was hierdie onderwyser op skool …’. Vir elkeen wat elke dag met God se kosbare kinders werk – mag ons in 2026 aan bakens van uitnemende menslikheid voortbou,” het Strydom aan die onderwysers gesê.
Lindie se man, Johann, het ook kortliks oor die uitdagings van generasiegapings gepraat en op sy treffende manier almal aangespoor om die brûe oor te steek van conflict and compete na collaborate and complement.






