Klubrugby het sy doel gedien . . . Dit is hoe menige ondersteuner voel as hulle hoor van jong spelers wat week ná week hul hart vir hul plaaslike rugbyklubs uitspeel en dan deur een van die groter unies raakgesien en ‘n kontrak aangebied word.
Een so ‘n speler is die gewilde agterlynspeler van Botla Fire, Ceejay Swartz. Dié 26-jarige boorling van Botrivier het nie in sy wildste drome gedink dat sy rugbyloopbaan ‘n ander wen-ding gaan neem nie. “Ek het net daarop gefokus om week ná week my beste vir Botla te gee en toe ek ‘n oproep van die Pumas-bestuur kry om my rugbyloopbaan daar voort te sit, het ek eers gedink iemand skeer die gek met my,” vertel Ceejay. Dit was egter die waarheid en nadat die werklikheid ingeskop, vreugdevure gebrand en Ceejay vir twee weke ‘n voorseisoen-oefenkamp in Mbombela bygewoon het, sien hy nou uit na die nuwe uitdaging wat hy sê God vir hom oor sy pad gebring het.
“Vir iemand wat in die Laerskool Botrivier was en my hoërskoolloopbaan aan Groenberg Sekondêr in Grabouw voltooi het, het ek nooit gedink so ‘n geleentheid sal oor my pad kom nie.”
Hy vertel trots hy kom uit ‘n rugbyfamilie en die rugbygogga het hom gebyt toe hy o.9 was. “Al is ek ‘n veiligheidsbeampte by die Overstrand-munisipaliteit en al is my werk vir my baie belangrik, eet, slaap en leef ek rugby,” vertel hy.
Ceejay het vandat hy 18 jaar oud was vir Botla Fire gespeel en daarna vir Hawston Skrik vir Niks en toe weer na sy tuisdorp se span teruggekeer. “Ek het in 2017 en 2018 vir Botrivier gespeel en in 2019 en 2020 vir Hawston. Ek het ná covid in 2022 weer by Botla Fire aangesluit en nog nie een keer teruggekyk nie. Die jaar by Botla was seker my hoogtepunt – nie net het ons bo-aan die Overberg-Grootuitdaag se punteleer geëindig nie, maar ons het ook in die uitspeelwedstryde bo verwagting goed gevaar.”
Ceejay was ook een van die beste driedrukkers in die toernooi en glo hy kan sy spelpeil vanjaar by die Pumas voortsit.
Hy kan ook nie wag om deur een van die topafrigters in die land, Jimmy Stonehouse, afgerig te word nie. “Coach Jimmy het wondere met die Pumas verrig en is ‘n gesiene afrigter in die land se rugbykringe. Ek is geëerd dat iemand soos hy my talent raakgesien het en ek sien baie uit om by hom te leer. Dit maak alles die moeite werd.”
Volgens hom is dit dalk sy veelsydigheid in die agterlyn wat Coach Jimmy se oog gevang het. “Ek kan basies enige posisie in die agterlyn speel, maar my gunstelingposisie is buitesenter.” Hy kyk veral op na Springbokspelers soos Cheslin Kolbe, Canan Moodie en Jessie Kriel.
Ceejay, wat nog nooit in Mbombela was nie, sê dit gaan dalk ‘n aanpassing wees, “maar een waarna ek uitsien”.
Volgens hom was hy uit die veld geslaan deur die Laeveld se natuurskoon. “As ek verlang of soms moeilike dae gaan beleef, hou ek vas aan die belofte in Jeremia 29:11 wat lui: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: Voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee; ‘n verwagting.’ ”
Volgens hom geniet hy dit ook om tyd saam met sy familie en vriende deur te bring en in sy aftyd luister hy graag na Chris Brown se musiek. “Ek gaan dalk nou ver van my familie en vriende af wees, maar tegnologie maak die afstand ‘n bietjie korter. Ek sal maar gereeld met hulle praat om my verlange minder te maak.”
Die Botrivier-rugbyklub het Ceejay op sy Facebookblad gelukgewens: “Botrivier RFC would like to take this opportunity to wish Ceejay Swartz all the very best as he begins this exciting new chapter with the Pumas. We are incredibly proud of you and grateful for the commitment, passion, and dedication you’ve shown at our club. May this journey bring growth, success, and unforgettable experiences. Once a fire boy, always a fire boy – go make us proud! ‘Commit your work to the Lord, and your plans will be established.’ – Proverbs 16:3.”






