Die Hoërskool Overberg in Caledon het sy tradisie van ‘n 100%-matriekslaagsyfer weer eens gestand gedoen.
Die 94 matriekleerders van 2025 het besonder goed gevaar. Altesaam 77 het met graad-toelating geslaag en 15 met diploma-toelating. Ses leerders het A-simbole verwerf en 16 leerders het B-simbole verwerf. Daar was 78 vak-A’s en 128 vak-B’s, met 25% van die klas met punte bo 70%. Altesaam 60% van die klas het bo 60%-gemiddeld verwerf, wat inderdaad ‘n puik prestasie is.
Die skoolhoof, Johan Jacobs, sê: “Ons is baie dankbaar vir die 100% slaagsyfer wat ons vir die vierde jaar in ‘n ry behaal het. Dit is weer eens ‘n bewys dat die skool se fokus nie net op akademie is nie, maar ook op die menswees van die leerders sodat ons ‘n afgeronde leerder kan uitstuur in die wêreld buite om ‘n goeie Suid-Afrikaanse burger te wees.
“Die leerders het baie hard gewerk om sukses te behaal – onder moeilike omstandighede die afgelope twee jaar. Alle eer moet ook gaan aan die onderwysers wat altyd die ekstra myl stap met ekstra klasse en een-tot-een-aandag – dikwels tot laat in die aand,” sê Jacobs.
Die topleerder, Carla Whiteman, noem aan Hermanus Times dat haar topposisie baie onverwags is. Op die vraag of sy baie hard geleer het, antwoord sy: “Net genoeg.” Carla beoog om B-Rek aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.





