Die Theewaterskloof-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, raadsheer Lincoln de Bruyn, het onlangs lede van verskeie dienssentrums vir senior burgers in die TWK-omgewing met ‘n oggendtee in die Victoria-saal in Caledon onthaal.
Die geleentheid was heerlik informeel en die dikwels uitbundige geskater was ‘n klinkklare bewys dat die gaste die oggend baie geniet het.
Die TWK se uitvoerende onderburgemeester, raadslid Cynthia Clayton, het die seniors aangeraai om gesonde eetgewoontes aan te kweek en na hul liggaam te luister.
Raadslid Helen Coetzee, die uitvoerende onderburgemeester van die Overberg-distriksmunisipaliteit (ODM), het die gaste daaraan herinner dat dit ‘n voorreg is om oud te word en dat hulle elke dag moet waardeer. Sy het ook genoem dat die seniors hul lewenservarings met die gemeenskap moet deel.
Coetzee het ‘n pragtige koortjie gesing, met talle van die gaste wat uit volle bors saamgesing het. Die marimba-orkes van Swartberg Primêr het vir ‘n kort rukkie uit hul klaskamers weggebreek om die gaste met hul musiek te vermaak.
Etlike lede van die verskeie dienssentrums het grappies vertel, gedigte voorgedra of sangitems gelewer. Die burgemeester het tot die vermaak bygedra deur grappies en stories uit sy skooldae te vertel.
Die gaste is die geleentheid gegee om kwessies wat pla met die burgemeester te bespreek en vrae aan hom te stel. Almal was dit eens dat die geleentheid meer gereeld moet plaasvind. Alle versnaperings asook ‘n heerlike wegneem-middagete is deur die ODM verskaf.





