“Dit is een van die mees uitdagende jare en ons het letterlik ons hande vol.”

Dít was die woorde van ‘n NSRI-bemanningslid nadat hy by die soveelste reddingspoging in die Overstrand was. Verlede Dinsdag (2 Desember) was ‘n donker dag vir Hermanus nadat ‘n 17-jarige tienerseun naby die Nuwe Hawe verdrink het.

Edrich Kotze, die stasiebevelvoerder van NSRI-Hermanus, het bevestig die NSRI-bemanning, CMC-ambulansdienste, ER24-ambulansdienste en die Hermanus-polisie is om 13:27 na die Cliff Path naby die Nuwe Hawe ontbied.

“Ons bemanning was op die toneel waar paramedici kardiopulmonêre resussitasie (CPR) op die slagoffer toegepas het. Ná al die reddingspogings is die tiener op die toneel dood verklaar,” het Kotze gesê. “Dit blyk dat die tiener in die moeilikheid beland het terwyl hy in die water was. Vriende van die oorledene het hom na bewering na die Cliff Path gedra, waar die paramedici hom probeer red het.”

Die polisie ondersoek die verdrinking.

In nog ‘n voorval op dieselfde dag moes die NSRI van Kleinmond bontstaan toe hulle omstreeks 17:20 na ‘n voorval by die hoofstrand in Kleinmond ontbied is.

“Toe die NSRI-bemanningslede by die toneel kom, is ‘n sewejarige seun by die strandmeer gevind nadat hy amper verdrink het. Die seun is onmiddellik op die toneel behandel en was buite gevaar,” aldus Boonzaaier.

Vyf dae later – op Sondag 7 Desember – is die NSRI-bemanningslede van Kleinmond weer na ‘n voorval ontbied. “Om 09:42 is ons ontbied om twee kinders van 10 en 11 jaar oud te kom bystaan nadat hulle amper in die Kleinmond-strandmeer verdrink het. Dit blyk dat die twee kinders deur die vlak water na hul ouma geloop het toe die een in ‘n gat geval het. Die tweede kind het ook in die gat gespring om haar maatjie te probeer red,” het Boonzaaier gesê.

Die NSRI-bemanning, EMS en CMC asook ER24 was op die toneel om die kinders by te staan. Die twee meisies is op die toneel behandel en gestabiliseer en daarna na die hospitaal geneem.

‘n Paar uur ná die voorval om 11:54 is die NSRI-Kleinmond-bemanning na Rooi–els ontbied. “Dit blyk die pa in die see het lyfplank gery toe hy deur ‘n stroom meegesleur is. Sy seun het die water ingegaan om hom by te staan, maar het ook in die moeilikheid beland. Hulle het darem al twee daarin geslaag om uit die stroom te kom en strand toe te swem,” het Boonzaaier gesê.

Die mans is na die hospitaal geneem waar hulle aansterk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article