Al het die Overberg geen spanne in die halfeindstryde van die Sanlam-Boland-Top-12-kampioenskap nie, het Atlantics en die Walkerbay Babes nie teleurgestel nie en gaan hulle die Overberg in die halfeindstryde van die Super 8 en Super 16 verteenwoordig.
Saterdag kon Botla Fire, wat die enigste hoop vir die Overberg was om na die halfeindstryd deur te dring, nie die wa deur die drif trek nie en het 37-33 teen Vredenburg vasgeval. Safcol het op sy beurt Abbotsdale gemaklik 76-34 gewen, maar dit was te laat vir die span van Grabouw om na die halfeindstryd deur te dring. Dus speel Roses Saterdag in Wellington teen Robertson Town en Villagers Worcester teen Saldanha.
David Rossouw skryf die wedstryd tussen Vredenburg en Botrivier was uit die staanspoor opwindend. Vredenburg het eerste bloed geruik toe Dorehano Carolus ‘n strafskop in die agtste minuut oorgeklits het. Botrivier het met ‘n teenaanval met sy agterlyn teruggeslaan en vir ‘n voorsprong van 7-3 onder die pale afgerond. Toe dit lyk of Botrivier op pad is om ‘n tweede drie te gaan druk, het Thyrique Carolus die bal onderskep, omtrent 55 meter gehardloop en Vredenburg se eerste drie onder die pale gedruk om sy span die voortou met 10-7 te laat neem.
Met twee spelers wat geelkaarte ontvang het, het Vredenburg se dissipline hom in die steek gelaat, maar karakter gewys met goeie verdediging, wat Botrivier gestuit en twee sekere drieë gekeer het. Vredenburg het sy derde drie teen die verloop van spel en ná ‘n rolmaalbeweging gedruk om sy voorsprong tot 15-7 te rek. Vredenburg het met nog ‘n rolmaal-beweging vorendag gekom en Botrivier voorlangs getap en toe afgerond met Waylen Meyer se drie vir ‘n voorsprong tot 22-7.
Ongelukkig het hul dissipline hulle in die steek gelaat nadat ‘n derde speler koelkamer toe gestuur is toe hy die bal bewustelik afgeklap het terwyl Botrivier op pad was om ‘n drie te druk.
Die skeidsregter het die TV-skeidsregter genader en dié het beslis dat ‘n strafdrie toegeken moet word. Die manne het met die rustydtelling van 22-14 gaan stoom afblaas met die Burg Boys gerieflik voor.
Hoewel Botrivier in die tweede helfte met meer vuur gespeel het, kon hulle nie Vredenburg se verdediging maklik breek nie. Met Ruan Kleinsmith en Mezonevon Bezuidenhoud, wat die Burg Boys se vierde en vyfde drieë gedruk het en ‘n strafskop wat bygevoeg is, het Botrivier se skare met die telling op 37-26 bekommerd geraak. Met 13 spelers op die veld en 10 minute oor het die Burg Boys se verdediging geknak toe Botla in die 78ste minuut gaan druk het, maar dit was te min en te laat en die Burg Boys het die wedstryd 37-33 gewen.
• Sanlam-Boland-Top-12-uitslae: Wesbank 27-41; Delicious NW 28-59 Hillcrest United; Abbotsdale 34-76 Safcol United; Botrivier 33-37 Vredenburg Villagers; Worcester 57-5 Vanrhynsdorp Eagles; Robertson Town 46-27 Saldanhabaai.
Intussen is dit ook bekend gemaak dat die afrigter van Safcol, Brendon Cloete, bedank het. Saffies is onder leiding van Cloete al as die Boland-kampioen gekroon, het drie keer vir die Top-12 gekwalifiseer, twee keer die Transnet-Saldanha-Super-8-titel gewen en was ook al twee keer die Overberg Challenge-kampioen.
• Die Walkerbay Babes, die vrouespan van Hermanus, spog steeds met hul onoorwonne status.
Hulle het die seisoen as die viermalige agtereenvolgende Boland-kampioen begin en Saterdag korte mette met die Warriors Women gemaak nadat hulle die wedstryd maklik 43-5 gewen het.
Een van die ondersteuners vertel dat hy baie trots is op die span wat week ná week alles in hul vermoë doen om met die beste rugby voren-dag te kom. Die span is ook goed voorbereid vir Saterdag se wedstryd teen die YoungGoodHope/Daisies terwyl die ander spanne in die halfeindstryd Central Wolves teen Mamre is.
Dit ‘n seisoen vol veranderinge vir die span. Die bestuur het om die tafel gesit en besluit dat Walkerbay van sy Boland-spelers na ander spanne moet opdeel. Dus het Walkerbay ‘n paar spelers verloor wat na ander klubs gegaan het.
Dit was nie al uitdaging wat die span vanjaar gehad het nie – een van hul afrigters het na Worcester verhuis en rig nou die Worcester Warriors af, maar gelukkig het Marthin Simmers die pos gevul. Saterdag speel Atlantics van Hermanus ook in die halfeindstryd teen Lovedale.





