Dit was Saterdag ‘n swart naweek vir die twee Overberg-spanne wat die streek in die Sanlam-Boland-Top-12 verteenwoordig.
Die nuweling in die Top-12, Botrivier, of Botla Fire, het op tuisbodem 36-29 teen Villagers van Worcester verloor. Alver Uys berig dat Villa Saterdag met mening teruggeveg en Botrivier met ‘n indrukwekkende aanslag geklop het nadat die wenspan halftyd met 12-19 agter was. Met hierdie oorwinning het Villa ook sommer ‘n duidelike boodskap aan voornemende aanspraakmakers gestuur dat Villa gewis sy oog ferm op die Top-12-titel het.
Ondersteuners van Botla Fire is dit eens dat hy die wedstryd kon gewen het as hulle tot enduit voluit gespeel het. Saterdag speel Botrivier ‘n wegwedstryd teen Van Rhynsdorp Eagles.
Norman Evertson berig in die wedstryd tussen die verdedigende kampioen Robertson Town en Safcol het Saffies die wedstryd soos ‘n wegholveldbrand begin en ná 23 minute reeds gemaklik 24-3 voorgeloop – danksy twee drieë deur sy linkerveuel, Terrence Ludick, een deur Harlon Klaasen (buitesenter) en drie doelskoppe en ‘n strafdoel deur Ricardo Klassen (skrumskakel). Trouens, Harlon se drie is binne die eerste minuut ná die begin van die wedstryd aangeteken.
Town en sy ondersteuners was verstom deur hierdie warrelwind-begin van Safcol. In dieselfde tydperk kon die tuisspan slegs ‘n strafdoel deur sy heelagter, Adriano Conradie, behaal. Die tuisspan se eerste drie het gekom toe Safcol reg voor sy eie doelpale vir onkantspel gestraf is.
Ricardo het met sy skopstewel Safcol op die voorvoet gehou, maar Town het karakter gewys en stadig, dog doelgerig, teruggeveg. Town se senterpaar, Jennewill April en Alrin Eksteen, het albei agter Safcol se doellyn gaan kuier. Conradie het albei drieë verdoel, wat die rustydtelling op 30-24 te staan gebring het. Hoewel Safcol toe steeds die pas aangegee het, was Town terug in die wedstryd.
Die wedstryd het egter in die tweede helfte in ‘n senutergende wipplankryery ontaard. Safcol het Town soos aan die begin, weer ontkant betrap toe sy regter-vleuel, Nazeem Wood, net ná die hervatting gaan druk het.
Town het teruggeslaan met Africa se tweede drie ná skitterspel deur April. Die skerpskutter Adriano Conradie (heelagter) se doelskop was in die kol. In die 53ste minuut was dit egter weer Safcol se beurt toe Rowan Heneke (plaasvervanger) gaan druk het. Ricardo se doelskop was oor en die telling het tot 42-31 gegroei – die besoekers steeds voor.
Kort hierna het die gety begin draai toe die kragman Marco Jones ná volgehoue druk deur Town oorgebars het. Conradie se vyfde suksesvolle doelskop het die telling na 42-38 geneem. In die 66ste minuut het die tuisskare uitbundig gejubel van lekkerte toe Town ná ‘n pragdrie deur April (sy tweede) wat deur Conradie verdoel is, vir die eerste keer die voortou geneem het. Die wedstryd het hierna op ‘n spannende einde afgestuur met Town wat toe met 45-42 die pas aangegee het. Minute later het Conradie die buffer tussen Town en Safcol met ‘n strafdoel vergroot. Enkele minute later was die skare dol toe Town uit sy kwartgebied ‘n aanval afgestuur en die bal in Marco Jones se hande beland het. Jones het die bal ná ‘n kort lopie vorentoe geskop, agternagesit en ná ‘n blabs deur Safcol se linkervleuel die bal op die wip gevang en vir ‘n pragtige opportunistiese drie oorgeduik.
Conradie, wat ‘n uitmuntende skopvertoning gelewer het, se doelskop was weer in die kol, wat die eindtelling op 55-42 te staan gebring en daarmee Town se eerste sege in vanjaar se Sanlam-Top 12-kompetisie verseël het.





