Inwoners van Botrivier is keelvol vir die munisipaliteit.
Inwoners van Botrivier is keelvol vir die munisipaliteit.

Botrivier-inwoners tesame met die burgerregteorganisasie AfriForum het Maandagoggend ‘n vreedsame optog na die Caledon-polisiekantoor gehou om klagtes aan die polisie te oorhandig.

Inwoners is volgens een van die woordvoer- ders keelvol vir die leë beloftes en ongerymdhede van die Theewaterskloof-munisipaliteit.

Hermanus Times het op 10 September oor die probleme in Botrivier berig (“AfriForum gryp in oor TWK”). Volgens Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder van Boland-gemeenskapstrukture, het Maandag se opgtog gegaan oor die onwettige oorlaaistasie in Botrivier. “Die rioolaanleg en die vullisoorlaaistasie is aangebou sonder die nodige goedkeuring en sonerings en afgesien daarvan het ons al vir amper 16 jaar met die Theewaters- kloof-munisipaliteit vergaderings gehou. Nie net veroorsaak die onwettige oorlaaistasie ‘n vlieëprobleem nie, maar daar is ook ander gesondheidsprobleme waardeur die inwoners nou in die gesig gestaar word. Verder het eiendomswaardes ook gedaal,” het sy gesê.

Volgens Van Dalen het die munisipaliteit wel op vergaderings erken dat hy onwettig opgetree het, maar nog nooit die probleme reggestel nie. “Ons het hierdie klagte by die polisie aangemeld en hoop dit sal ondersoek en reggestel word, want die inwoners is moeg gesukkel met die TWK-munisipaliteit wat net aangaan sonder de inwoners se insette,” het sy verder gesê.

Volgens die munisipale bestuurder van die TWK, Walter Hendricks, is hulle bewus van die optog Maandagoggend. “Ons neem kennis van die vreedsame optog wat Maandag in Caledon plaasgevind het en ons respekteer die grondwetlike reg van die organisasie en die inwoners om ‘n optog te hou om hul misnoeë uit te spreek. Ons het in hierdie stadium egter nog geen memorandum ontvang nie.”

Hy sê verder: “Ons verbind ons egter daartoe om konstruktiewe gesprekke met die partye te voer en moedig die mense aan om toepaslike kommunikasiekanale te gebruik om sodoende probleme op te los.”

Inwoners van Botrivier het Maandag ‘n vreedsame optog in Caledon gehou om hul misnoeë uit te spreek oor die onwettige rioolaanleg en vullis-oorlaaistasie in Botrivier. Foto: Mitzi Buys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article