Elim het in 1824 as Morawiese sendingstasie ontstaan en is destyds as ‘n veilige hawe vir bevryde slawe en die inheemse Khoi-volk gevestig. Dié geskiedkundige dorp, waar die meeste inwoners se lewe vandag nog om die Morawiese kerk en eeue oue tradisies draai, het verlede jaar sy 200ste bestaansjaar gevier.
Hierdie jaar skud die dorp en sy inwoners weer vere reg om hul erfenis met ‘n reeks opwindende en pretgeleenthede te vier.
‘n Karaoke-aand sal Saterdag 27 September gehou word om ‘n voorsmakie te gee van die opwindende Elim-erfenisfees, wat van Vrydag 31 Oktober tot Sondag 2 November gehou word. Die tema van die karaoke-aand is “All White”. Dit begin om 19:00 in die Elim-stoor en belowe om ‘n lekker kuieraand te wees. Toegang kos slegs R100 en gaste kan hul eie drink- en eetgoed saam- neem. Gelukstrekkings en pryse vir die besgeklede gaste sal op die spel wees.
Om gees te bou in die week voordat die Erfenisfees plaasvind, word ‘n Meneer- en Mejuffrou Elim-erfenis-skoonheidskompetisie Saterdag 25 Oktober by die Elim-stoor aangebied. Alle stylvolle oumas of “Glamourous Grannies” word ook genooi om hul beste voetjie in dié afdeling voor te sit. Die inskrywingsgeld is slegs R20. Dié geleentheid begin om 16:00 in die Elim-stoor.
Een van die hoogtepunte van die vieringe is ‘n spesiale fees wat gehou word om die 190ste bestaansjaar van die kerkgebou te herdenk. Dit sal deel van die Erfenisfees vorm.
Kinders kan uitsien na ‘n spesiale speletjiesdag, wat van 15:00 tot 18:00 op 31 Oktober in die gemeenskapsaal aangebied word. Die pret sluit in “visvang” met magnete, “Minute to Win It” en ander opwindende aktiwiteite.
Bingo sal van 17:00 tot 18:00 gespeel word. Toegang kos slegs R20 en sluit ‘n gelukspakkie in.
Daarna kom die volwassenes aan die beurt met die Erfenisjol, wat die aand plaasvind. Dit beloof om ‘n behoorlike opskop te wees en gaste kan selfs ‘n BBP-kraampie teen slegs R250 vir ‘n maksimum van vyf mense bespreek. Die fooi sluit in ys en koeldrank van jou keuse plus ‘n mini-peuselhappiebord.
Saterdag 1 November begin die feestelikhede al om 08:00. Inwoners en besoekers kan uitsien na ‘n spesiale uitstalling, ‘n wye verskeidenheid stalletjies, optredes deur die basuinkoor en trompoppies, ‘n teetuin, lekker sport en ‘n buitelugdans.
Toegang kos R45 vir volwassenes en R30 vir kinders ouer as vier jaar. Kaart-jies is beskikbaar by Shanté Swart, Pierre Savage, Larnell Swart of Gloeë MacTavish.






