13-jarige van Caledon wen vet atletiekbeurs en haar toekoms is blink

Die hoof Chris Delport by Naomi Abotsi en Theresa Plaatjies. Foto: Mitzi Buys

Sy is maar net 13 jaar oud – klein en fyn, maar het stamina, deursettingsvermoë en toewyding. En dis dié toewyding wat Naomi Abotsi, ‘n graad sewe-leerder aan Swartberg Primêr, ‘n gesogte sportbeurs laat losslaan het.

Naomi, ‘n landloopatleet, is deur die Athletic Cycling Education Trust (ACE Trust) van Stellenbosch gekeur om van aanstaande jaar aan hul sport- en akademiese program deel te neem. ACE Trust identifiseer talentvolle jong atlete en fietsryers uit veral die platteland om aan hul programme deel te neem, wat hulle holistiese opvoeding verskaf terwyl hul sportpotensiaal terselfdertyd ontwikkel word.

ACE Trust het in 2023 ‘n vennootskap met die Hoërskool Stellenbosch aangegaan om hul atletiek- en fietsryprogramme in Stellenbosch te bestuur.

Theresa Plaatjies, ‘n onderwyser aan Swartberg Primêr, sê: “Ons stap al ‘n lang pad met Naomi, wat in graad drie met landloop begin het. In graad vier het sy haar ware atletiektalent begin wys onder die afrigting van Deidre Michaels, alombekend as Coach Didi.

“Ons het by die ACE Trust aansoek gedoen en ná ‘n finale kamp, waar hulle sport- sowel as akademiese toetse moes aflê, is ons in kennis gestel dat

Naomi gekeur is en ‘n volle beurs ontvang het, wat haar skool- en koshuisgeld aan die Hoërskool Stellenbosch, sowel as haar sportafrigting, dek. Ons is geweldig trots op haar, want sy is die eerste leerder van Swartberg Primêr wat vir die program aanvaar is.”

Aan Hermanus Times vertel Naomi: “Ek is baie trots oor hierdie wonderlike geleentheid wat ek gekry het en is opgewonde daaroor. Ek wil vir juffrou Plaatjies, Coach Didi en my ma, Philana, baie dankie sê dat hulle hierdie pad saam met my gestap het. Hulle het saam met my gebid en gehoop dat ek by die program inkom. Hulle het my baie trots laat voel en ek dink dat ek hulle ook trots gemaak het toe ons die nuus gekry het.”

Naomi sê as somersport sal sy haar op die 800m toespits en in die winter aan landloop deelneem. Sy sal deur die middelafstandafrigter Nolene Conrad afgerig word.

Op ‘n vraag oor haar raad aan jong leerders sê Naomi: “Werk hard, vertrou en glo dat jou toekomsdrome waar kan word.

“En, glo in jouself!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article