Badisa Stanford bied elke skoolvakansie spesiale programme aan om die jeug van die dorp met opvoedkundige aktiwiteite besig te hou.
Maar om die kinders uit die strate te hou, het die organisasie die gemeenskap en plaaslike sakelui se ondersteuning en skenkings nodig.
Anchelle Damon, ‘n gemeenskapsontwikkelingbeampte van die Badisa, verduidelik: “Gewoonlik is die ondersteuning deur die gemeenskap baie goed, maar ons sal graag wil sien dat sakeondernemings ook by hierdie belangrike vakansieprogramme betrokke raak. Ons werk grotendeels met kinders tussen een en 16 jaar oud. Ons probeer ook om die ouer kinders wat steeds na die vakansieprogramme kom, in te span as mentors wat ons met die jonger kinders help.”
Volgens Damon bied die organisasie verskeie aktwiteite soos sportaktiwiteite, skoonmaakoptredes en maaltye vir alle deelnemers aan.
“Soms plant ons selfs bome en doen skoonmaakprojekte om die kinders te leer hoe belangrik dit is om na die omgewing om te sien en dat dit almal se verantwoordelikheid is om dit skoon en netjies te hou. Ons verduidelik ook aan die kinders wat ‘n gesonde omgewing vir hul gesondheid inhou.”
Nog ‘n behoefte, sê die organiseerders van die vakansieprogram, is ‘n projektor – veral vir reënerige dae wanneer hulle nie buitemuurse aktiwiteite met die kinders kan doen nie.
Vir die sportaktiwiteite benodig die fassiliteerders skenkings van rugby-, netbal-, tennis- en sokkerballe.
Skenkings van niebederfbare kosprodukte sowel as vars vrugte en groente is ook nodig.
“Die kinders loop ‘n pad saam met ons en dit is altyd lekker om te sien hoe van die kinders, wat nou al op hoërskool is, steeds na die program kom. Dit sê vir ons kinders geniet die program en dit maak wel ‘n verskil in die gemeenskap.
“Ons doen ook programme by skole waar ons bewusmaking oor dwelm- en alkoholmisbruik, boeliegedrag en tienerswangerskappe doen,” het Damon gesê.
• Enigeen wat van hulp kan wees met skenkings vir die vakansieprogram, kan Anchelle Damon by 063 662 0001 kontak.






