Esther, Hannetjie, Marieta, Ally en Andreas nooi hul klante om Ally Shoes se 25ste bestaansjaar saam met hulle te vier.


Of jy op soek is na elegante skoene wat gemaklik genoeg is om in te dans, stylvolle stewels, oulike skoene om jou gunsteling-uitrusting mee af te rond of tekkies wat die oog vang – Ally Shoes is die perfekte plek om dit te kry.

Dié bekende skoenwinkel in Warrington Place in Haweweg, Hermanus, het sy deure oorspronklik in 1998 geopen en vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar.

Ally Shoes is “gebore” nadat Alyssa “Ally” Joubert maande lank in Hermanus navorsing gedoen en tot die slotsom gekom het dié dorp het ’n leemte vir ’n winkel wat gemaklike skoene verkoop.

Andreas Joss, wat die onderneming se bestuur aan die einde van 2019 by sy ma oorgeneem het, het so te sê in die winkel grootgeword.

“My ma hou daarvan om te vertel hoe ek as kind ná skool agter in die stoorkamer gewag en die skoenbokse soms op my kop geval het. Destyds het ek dit nie baie snaaks gevind nie, maar nou lag ek darem saam,” vertel hy.

Ally Shoes se aanlyn winkel het in 2017 die lig gesien. Volgens Andreas het hulle heelwat klante wat die aanlyn winkel “besoek” en soms daarna “in lewende lywe oor ’n Desember-vakansie” ’n draai by die winkel kom maak.

Die winkel se hoofprioriteit is gehalte en gemak en hulle poog om iets vir elke behoefte, ouderdomsgroep en styl te bied.

Hotter, ’n handelsmerk uit Engeland, se gemakskoene van egte leer is van hul topverkopers. Ally Shoes hou ook skoene van die plaaslike handels­merke Froggie, Angels, Natural Steps en Freestyle aan. Hulle hou ook heelwat aktiewe leefstyl-skoene aan, soos Skechers en Fitflop – ideaal vir mense wat baie stap.

Die Nursing Care-skoenreeks, wat uit Portugal ingevoer word, is ook baie gewild. Dit is gesondheidskoene wat uiters gemaklik maar terselfdertyd stylvol is, met prettige kleure en patrone.

Die feit dat almal goed as ’n span saamwerk, sê Andreas, is deel van hul suksesresep. Die span bestaan uit Esther du Plessis, die winkelbestuurder wat al 17 jaar by die onderneming is, die verkoopskonsultant Hannetjie Scheepers, wat al agt jaar vir die onderneming werk, en Marieta van der Merwe, wat haar verlede jaar by die span aangesluit het.

“Ons het almal dieselfde doel en dis om die beste diens moontlik te lewer,” sê Andreas. “Gewoonlik word die hele span se insette geneem voordat ’n nuwe seisoen se style en kleure bestel word. Elke potensiële nuwe skoenstyl word eers deur my ma en Hannetjie aangepas en deur Esther fyn deursoek vir enige ontwerpersfoute of moontlike probleme. Ons is werklik geseënd om ons 25ste verjaarsdag te kan vier, en ons bedank elke klant hartlik vir die ondersteuning wat ons geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article