Gesukkel met leerlinglisensies kan bestuurskole raak.
Gesukkel met leerlinglisensies kan bestuurskole raak.
TygerBurger

Gesukkel met leerlinglisensies kan bestuurskole raak


Minstens een bestuurinstrukteur by ‘n bestuurskool sê hy is bekommerd dat die nuwe, gerekenariseerde toets vir leerlingrybewyse ‘n invloed op sake gaan hê.

Groot kommer heers oor die groot aantal mense wat die leerlinglisensie-toets druip sedert dit elektronies gemaak is. Klaarblyklik druip meer as die helfte van die aansoekers nou. In die verlede moes 68 vrae per hand ingevul word, maar met die nuwe tegnologie word antwoorde lukraak uit meer as 1000 gekies. Waar kandidate in die verlede net die antwoorde van gelekte vraestelle kon leer, veroorsaak die lukrake aard van die toetse groot probleme.

Twee uit 80

Daylan Daniels, ‘n instrukteur, sê hy weet by een verkeersdepartement slaag slegs twee of drie kandidate uit meer 80 per week. “Ek het self die toets probeer en dit is baie moeilik. Dit kan veral vir ‘n Afrikaanse persoon moeilik wees om die Engelse vrae baas te raak, maar ek dink die tegnologie kan ook vir baie mense ‘n remskoen wees. Gestel jy het nog nooit aan ‘n tablet geraak nie en hier moet jy skielik jou antwoorde daarmee invul. Sommige van die vrae kan ‘n mens deurmekaar maak,” sê Daniels.

Druipelinge

Volgens Daniels het die meeste van hul kliënte leerlinglisensies, maar hy voorsien dat die aantal druipelinge druk op instrukteurs kan plaas. “As kandidate nie hul leerlinglisensie slaag nie, gaan dit moeiliker word vir instrukteurs. Ek stel voor voornemende kandidate studeer hard, maar maak ook seker hulle gaan na die regte bestuurskole sodat hulle reg gelei kan word. Ons sal sien waarheen hierdie ding lei,” sê hy.

TygerBurger het uitgereik na Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie om amptelike statistieke oor die druipsyfers vir leerlinglisensies, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.

ALSO READ: Computerised learner’s licence testing starts City-wide

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article