Skaakspelers van 10 jaar en ouer word genooi om aan die Bonnievale-toernooi deel te neem.


Skaakspelers in die streek word genooi om vir die Bonnievale-ope in te skryf, wat Saterdag (21 Oktober) gehou word.

Die doel van die toernooi, waarin algehele prysgeld van R61 000 op die spel is, is om skaak in die Wes-Kaap – en spesifiek die Boland en die Overberg – te bevorder op ’n manier wat pret sowel as lonend is, en meer as 400 spelers van reg oor die provinsie word verwag.

Volgens Stefan Pieterse, die organiseerder van die Bonnievale-ope, is die toernooi ’n bewys van wat moontlik is as ’n hele gemeenskap bymekaarkom en hande vat om dit ’n werklikheid te maak. “Almal het iets gegee, hetsy dit fasiliteite, prysgeld, of hulp met reëlings was. Dit is veral wonderlik om te sien hoe die plaaslike hoërskole saamwerk,” het Pieterse gesê.

Volgens Paul Wilson, die hoof-arbiter en ook registrasie-ampenaar, is meer as 60 pryse in al die afdelings te wen, en met spesifieke voorsiening vir vroue is hierdie toernooi een van die grootste en mees winsgewende in die land.

Die toernooi bestaan uit ses verskillende afdelings – o.10, -12, -14, intermediêr, gevorderd en kampioenskap – en enige speler wat wil deelneem, kan aanlyn by https://chesshub.org.za/events/bonnievale_rapid/ registreer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article