Die Universiteit Stellenbosch se rektor, prof Wim de Villiers, sê die US se meertalige reis is nie maklik nie. Foto: ARGIEF/Leánne Stander


Dr Leon Schreiber, DA-LP en lid van die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het vandeesweek ’n versoek gerig om ’n dringende mosie van wantroue teen die US-rektor, prof Wim de Villiers, op die volgende raadsvergadering se agenda te plaas.

Dít volg ná die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) vandeesweek bevind het dat die US menseregteskendings gepleeg het teen Afrikaanssprekende studente deur die implementering van ’n beleid van “slegs Engels” in sekere koshuise tydens die 2021 verwelkomingstydperk.

In ’n e-pos aan die US-raadsvoorsitter, Nicky Newton-King, versoek Schreiber dat ’n mosie vir die ontheffing van De Villiers uit sy amp as rektor ingevolge paragraaf 42(3) van die statuut van die universiteit op die agenda geplaas word. Die volgende raadsvergadering is op 17 April.

Volgens dié paragraaf in die statuut van die US mag die raad die rektor se amp onthef met ’n tweederde-meerderheidstem van al die raadslede op grond van ’n ernstige oortreding van die reg, ernstige wangedrag, ongeskiktheid of versuim om aan operasionele vereistes te voldoen.

Die DA het die afgelope week die bevinding van die SAMRK as ’n reuse-oorwinning vir taalregte beskryf. Die bevinding volg op ’n klagte wat die DA op 17 Maart 2021 by die SAMRK ingedien het, nadat verskeie eerstejaarstudente die party genader het vir hulp omdat hulle verbied is om Afrikaans te praat in koshuise, op kampus en selfs op parkiebanke.

DA-leier John Steenhuisen en Schreiber het destyds die kampus persoonlik besoek om getuienis in te samel en aan die SAMRK te oorhandig. Die verslag wat vrygestel is, is dus ’n enorme oorwinning vir die DA, vir Afrikaanse studente op Stellenbosch, en vir die taalregte van alle Suid-Afrikaners.

Die US sê hy neem kennis van die SAMRK se verslag oor taal in US-koshuise. “Menswaardigheid is ononderhandelbaar by die Universiteit en moet gerespekteer en gehandhaaf word. Die US is teleurgesteld oor die voorvalle wat aan die lig gekom het en neem kennis van die aanbevelings van die SAMRK-verslag oor taal by die US. Ek is op rekord dat die US almal om verskoning gevra het wat negatief deur hierdie voorvalle geraak is. Die US is steeds onwrikbaar verbind tot die bevordering van menseregte, meertaligheid en inklusiwiteit vir al sy studente, personeel en belanghebbendes en is deurlopend besig om te ontwikkel en te verander ten einde hierdie ingesteldheid en voldoening aan die US se Taalbeleid (2021) te benadruk,” het De Villiers gesê.

Hy sê die Universiteit slaan ag daarop dat die Kommissie daarop wys dat die Taalbeleid van 2016 [die vorige Taalbeleid] nie sou toelaat dat enige student verbied word om hulle gekose taal in koshuise te praat nie. Verder was daar volgens die SAMRK se verslag nie “’n flagrante en gekonsentreerde verbod op Afrikaans wat deur ’n daadwerklike poging van die respondent [US] en sekere individue in die Universiteitsbestuur geïnspireer en gemotiveer is om Afrikaans by die US uit te roei nie”.

Nieteenstaande het die De Villers in sy verskoning daarop gewys dat “indien daar studente was wat opdrag gekry het om nie Afrikaans in ’n sosiale konteks te gebruik nie, ‘dit verkeerd is”, dat dit nie die Universiteit se beleid was nie en dat die US verbind is tot ’n voortgesette ondersoek en regstellingsproses. “Verskeie positiewe stappe wat met die regstellende stappe ooreenstem wat deur die Kommissie aanbeveel is, is terloops reeds gedoen. Dit sluit die beklemtoning daarvan in dat die gebruik van geen taal, insluitende Afrikaans, in die gees van meertaligheid verbied mag word nie. Verdere stappe wat beplan word, sluit die voortgesette opleiding van koshuishoofde en studenteleiers in, wat ook met die regstellende stappe in die verslag ooreenstem.

“Ek is op rekord dat ek gesê het die US se meertalige reis is nie maklik nie. Foute is onvermydelik en ons sal daaruit leer in die proses om ’n progressiewe meertalige en inklusiewe Suid-Afrikaanse universiteit vir die 21ste eeu te skep. Die Universiteit het reeds binne hierdie konteks opgetree sedert die eerste bewerings oor taalgebruik in ’n spesifieke koshuis in 2021 onder ons aandag gebring is – die Kommissie het dit ook toegegee,” sê De Villiers.

“Dít, tesame met ander inisiatiewe wat die Universiteit tans onderneem om die verwelkomende en inklusiewe aard van ons instelling te verbeter, sal baie daartoe bydra om die regte en voorregte van al ons belanghebbendes te beskerm,” sê De Villiers.

“Die US erken dat transformasie verskeie fasette het en om dit ingebed, sistemies en doeltreffend te maak, moet dit op ’n veelvlakkige wyse aangespreek word. Hierdie reis duur al die afgelope twee dekades. Die proses is onnet, moeilik en vereis baie selfbesinning. Ons sal voortgaan op hierdie reis en waar nodig, daarop fokus om die gaping tussen beleid en praktyk, verbintenis en geleefde ervarings te verklein. Ons doelwit is om voort te gaan om tot oplossings by te dra wat die samelewing sal verbeter.”

Die verskeie aspekte van transformasie wat die US aanspreek, sluit strukturele transformasie, ’n klem op waardes, institusionele kultuur, beleide en planne, die studente- en menslikehulpbronprofiel, navorsing en sosiale impak, vennootskappe en die gesondheid en welstand van personeel en studente in.

Dr Leon Schreiber het vandeesweek ’n versoek gerig om ’n dringende mosie van wantroue teen die US-rektor, prof Wim de Villiers, op die volgende raadsvergadering se agenda te plaas.Foto:

Schreiber meen De Villiers moet, in die openbaar, ’n geskrewe verskoning publiseer wat erken dat die menseregte van Afrikaanse studente verbreek is en onderneem om stappe te doen wat sal verseker dat geen student ooit weer verhoed word om enige taal te praat nie.

“Hy moet ook persoonlik aan alle koshuisleiers skryf met ’n opdrag dat geen beleid van ‘slegs Engels,’ of enige soortgelyke beleid, toegepas mag word nie. Die US moet opleiding aan koshuise verskaf oor hierdie kwessie.”

Schreiber sê ’n belangrike wending is dat die SAMRK-verslag ook die verwronge wyse waarop die US gereeld die konsep van “inklusiwiteit” misbruik as ’n verskoning om die regte van Afrikaanse studente te ondermyn verwerp en voeg by die DA verwelkom hierdie MRK-verslag as ’n belangrike streep in die sand wat uiteindelik kan begin om die gety van diskriminasie op grond van taal, om te keer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article