Die violis Nicholas Bruiners, ‘n bronsmedaljewenner van die 2017- Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK), keer vanjaar terug na die kompetisie om as as gaskunstenaar by die finaliste se galakonsert op te tree.
Bruiners sal die Vioolkonsert nr. 5 in A mineur, Op. 37 deur Henri Vieuxtemps, in die konsertfinale saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) uitvoer.
Die konsert sluit die uitmergelende 2025-NJMK af, wat van Maandag 1 tot Saterdag 6 Desember by die Endler-saal in Stellenbosch plaasvind.
Die dirigent vir die 2025-galakonsert is maestro Brandon Philips, wat ‘n lang geskiedenis met die kompetisie het. Die konsert begin om 18:00 en bestaan uit ‘n overture, die ses finaliste-soliste en die uitvoering van die gaskunstenaar.

Bruiners, ‘n boorling van Mowbray in Kaapstad, was op 17-jarige ouderdom die naaswenner in die NJMK se strykinstrument-afdeling en het met ‘n bronsmedalje en prysgeld van R3 000 weggestap.
Hy is ‘n jaar later genooi om as een van die nege skadujurielede vir die 2018-kompetisie te dien.
In 2023 het het by die KFO as lid in die eerste vioolafdeling aangesluit. Ná matriek het dié talentvolle violis onder die leiding
van prof. Farida Bacharova aan die Universiteit van Kaapstad studeer, waar hy in 2022 sy BMus in Uitvoering met onderskeiding behaal het en die volgende jaar sy Uitvoeringshonneurs voltooi het. By dié universiteit was hy die ontvanger van die Kamermusiekprys, die Leonard Hall-prys en die Alfred Libochowitz-prys.
“Ek is opgewonde om vanjaar na die NJMK terug te keer. Agt jaar gelede was dit ‘n senutergende ervaring om teen 20 ander jong, talentvolle musikante mee te ding, maar dit het ook my liefde vir musiek en optredes bevestig,” sê Bruiners.
Die jaarlikse kompetisie is 41 jaar gelede in Gqeberha (toe Port Elizabeth) deur Michael Maas begin. Die NJMK- eerste prys van R36 000 word ter ere van sy nalatenskap die Michael Maas-gedenkprys genoem.
Die galakonsert is die hoogtepunt van die weeklange kompetisie, waar 22 gekeurde deelnemers ‘n uitgebreide repertoire werke uitvoer. Hulle word deur ‘n sewe-lid-paneel van klassieke musiekkundiges beoordeel.
Toegang vir die eerste drie rondes van
1 tot 4 Desember is gratis.
Besoek Quicket vir kaartjies, vanaf R110, vir die eindronde se galakonsert.
Twee Eikestadnuus-lesers kan elk ‘n dubbele stel kaartjies ter waarde van R380 na die galakonsert wen. Om jou naam in die goed te gooi, voltooi die vorm hieronder.
Nasionale Jeugmusiekkompetisie
Wen een van twee stelle dubbelkaartjies na die gala-konsert van die 2025- Nasionale Jeugmusiekkompetisie.

You must be logged in to post a comment.