Duisende deelnemers het in 2025 aan die Totalsports- Twee Oseane-marathon deelgeneem. Foto: Devin Paisley

Stellenbossers wat vanjaar aan die Totalsports- Twee Oseane-marathon (TTOM) deelneem, kan hul voorbereiding vir dié padwedloop-uitdaging versterk deur vir een van ses amptelike oefen-wedlope in te skryf.

Organiseerders en vennote van die gewilde marathon sal in die aanloop tot die wedloop, wat in April in die Kaapse Skiereiland aangebied word, drie oefenwedlope in die Wes-Kaap, twee in Gauteng en een in Durban aanbied.

Die voorbereiding begin Sondag 25 Januarie in Kaapstad, gevolg deur oefenlopies in Johannesburg (Sondag 1 Februarie), Durban (Sondag 8 Februarie), Kaapstad (Sondag 22 Februarie), Pretoria (Sondag 8 Maart) en Stellenbosch (Sondag 22 Maart).

Die oefenwedlope is slegs oop vir diegene wat vir die 2026-weergawe van die marathon ingeskryf is en sal ‘n 21-  km- en 12- km-roete aanbied. Geen inskrywingsfooi is betaalbaar nie, maar deelname is beperk, dus sal deelnemers vooraf moet inskryf.

“Ons is trots om die amptelike TTOM-oefenwedlope vir 2026 van stapel te stuur – ‘n opwindende opbou tot wat belowe om ‘n onvergeetlike wedloopjaar te wees,” het Wade Bromfield, hoofbestuurder van die TTOM, gesê.

“Ons kondig die datums nou aan sodat deelnemers kan beplan, gemotiveerd bly en hierdie sessies op hul kalenders kan aanteken.

“Die spesifieke beginplekke sal later op ons sosialemediakanale bekend gemaak word, aangesien ons nou saam met ons vennoot-atletiekklubs sal werk om die beste plekke te kies. Hierdie wedlope gaan oor energie, gemeenskap en gedeelde passie – die perfekte manier vir die aftelling na die groot wedloopdag!”

• Die TTMO-naweek vind van Vrydag 10 tot Sondag 12 April plaas, met die veldwedloop op Vrydag 10 April, die ultra-marathon op Saterdag 11 April en die half-marathon op Sondag 12 April. Besoek www.twooceansmarathon.org.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article