Van der Stel-Evergreens (VDE) is deur na die halfeindstryd van die Top-6 in Superliga C nadat hulle Saterdag (19 Augustus) 39-12 met Goodwood-rugbyklub in Stellenbosch afgereken het.
VDE wag nou vir die uitslag van eerskomende Saterdag (26 Augustus) se stryd tussen Hamediehs en Kraaifontein om uit te vind of hulle eerste of tweede op die punteleer sal eindig. Hamediehs het Saterdag teen Albions met 21-16 (sonder ’n bonuspunt) gewen en staan tans op 56 punte en sal alles in die stryd werp om vyf punte in te samel.
Spanne in posisie een en twee is outomaties in die halfeindstryd, terwyl spanne van posisie drie tot ses in kwarteindstryde gewikkel sal wees. Die finale ses sal teen Saterdag 2 September gefinaliseer word, wanneer elke span sy 14 ligawedstryde gespeel het.
Die span in posisie drie speel teen die span in posisie ses in die een kwarteindstryd, terwyl die span in posisie vier die span in posisie vyf pak.
Die ses spanne wat tans vir die Top-6 kwalifiseer, is VDE, Hamediehs, Macassar, Goodwood, Kraaifontein en Pniel-Villagers. Alles hang net af in watter volgorde die ander spanne, behalwe VDE, eindig om te weet wie speel teen wie. Die kwarteindstryde tot en met die eindstryd sal oor drie weke beslis word voordat die Top-6-wenner gekroon word.
Hamediehs moet met ’n bonuspunt wen om een punt (61) voor VDE te eindig, maar dit sal nie ’n maklike taak in Kraaifontein wees nie. ’n Sege sonder ’n bonuspunt sal hulle met een punt voor Macassar (58) laat eindig, en indien hulle twee punte insamel, eindig Hamediehs op 58 punte met Macassar en kom punteverskil in aanmerking. Dis iets wat Hamediehs ten alle koste wil vermy, want hulle wil in die eerste twee posisies eindig en nie nog in kwarteindstryde betrokke wees nie.
Die kwarteindstryde word op die tuisvelde van die span in die derde en die vierde posisie gespeel, terwyl die halfeindstryde op ’n neutrale veld, waarskynlik City Park in Athlone, gespeel sal word.
Die span wat in posisie een is, speel teen die laagste span in die kragmeting tussen span drie en ses, en die span in posisie twee teen die hoogste span in vier en vyf.
Die twee spanne wat na die eindstryd deurdring, word outomaties na Superliga B bevorder, terwyl die ander spanne weer in 2024 in Superliga C in aksie sal wees.




