Twee insittendes van ’n 18-wiel-trok is ernstig beseer toe die trok omgeval het op die Franschhoekpas verlede Donderdag, 27 Januarie.
Die Wes-Kaapse Departement Gesondheid se Mediese Dienste (EMS) het by die toneel opgedaag, waar twee ton pere langs die pad gestrooi is.
Twee EMS-reddingsvoertuie, ’n ambulans, ’n noodvoertuig en ’n Skymed-helikopter is na die ongelukstoneel ontbied.
“Die oproep om hulp het om 13:34 ingekom oor ’n ongeluk wat naby die Franschhoek-monument plaasgevind het. Twee manlike passasiers het ernstige beserings opgedoen en was onder die trok vasgekeer,” het EMS woordvoerder, Deanna February gesê.
“Albei pasiënte is na die Paarl-hospitaal geneem (een deur Skymed en die ander met ’n private ambulans) nadat hulle uit die wrak gered is.”
Franschhoek-polisie se woordvoerder, sersant Marize Mentoor, het die voorval bevestig en gesê die ongeluk het aan die voet van die heuwel aan die einde van die pas gebeur.
“Inligting oor die ongelukstoneel dui daarop dat die bestuurder se hande erg beseer is, en ’n passasier het ook ernstige beserings aan sy voet opgedoen.”
Mentoor sê weens die ongeluk het die sowat twee ton vrag pere nie hul bestemming kon bereik nie. “Wonderbaarlik is geen lewe egter verloor nie,” het sy bygevoeg.





