Shanley Cyster, ’n onderwyser aan Rietenbosch Primêr, is op nasionale vlak vir haar uitmuntende werk in die klaskamer vereer.


Die harde werk en toewyding van ’n plaaslike onderwyser het daartoe gelei dat sy tydens die nasionale onderwystoekennings onder die land se elite-opvoerders benoem is.

Shanley Cyster, ’n onderwyser aan die Rietenbosch Primêre Skool in Cloetesville, is tydens die spoggeleentheid in Tshwane op Wêreld-onderwysersdag (Donderdag 5 Oktober) as naaswenner in die afdeling vir uitmuntendheid in tegnologie- verbeterde onderrig en leer aangekondig.

Die toekennings word deur die basiese onderwysdepartement aangebied om die ongelooflike werk van onderwysers by staatskole te vier asook om uitstekende onderrigpraktyke te erken.

Cyster het die Wes-Kaap in die afdeling verteenwoordig nadat sy verlede maand (September) by die provinsiale toekennings as die wenner van dié afdeling aangekondig is (“Dorothea-onnies vereer”, Eikestadnuus, 7 September). Die beskeie Pniël-boorling is nederig oor die prys wat sy verower het en sê die werklikheid het nog nie by haar ingesink nie.

“Toe my naam genoem is, het ek baie geërd gevoel en ’n gevoel van ongelooflikheid heers steeds in my, veral omdat ’n mens nie dinge vir erkenning doen nie, maar jy doen dit om iemand te help – om die kind te help; om die skool te help ,” sê Cyster.

“Ek word wyd en syd deur mense gelukgewens, maar dan twyfel ek in myself en of ek wel die toekenning verdien. Dan besef ek dat ek hierdeur ander onderwysers wil aanspoor om hul stories oor wat hulle in die klaskamer verrig, te vertel. Hierdie toekennings is daar om die uitstaande werk van onderwysers te vier.”

Cyster, wat steeds in haar geboortedorp woon, vier vanjaar ’n dekade in die onderwys. Sy het ’n graad in onderwys aan die Universiteit Stellenbosch behaal, asook ’n honneursgraad in opvoedkundige sielkunde. Sy spog ook met ’n honneursgraad in inligting en kommunikasietegnologie in onderwys van die Universiteit van Pretoria.

“Ek het nog altyd ’n hunkering om ander te help gehad en dít was een van die grootste motiverings agter my keuse om onderwys te studeer. Dis vir ongelooflik om die invloed van my hulp op mense – veral kinders – te sien, asook hoe hul gesiggies verander wanneer hulle iets besef of verstaan.”

Toe Cyster vir die provinsiale kompetisie ingeskryf het, het sy by die Dorothea Spesiale Skool gewerk. Hier het sy klas op gr. 4-vlak aangebied en met outistiese kinders van 14- tot 16-jarige ouderdom gewerk. By Rietenbosch Primêr bied sy Afrikaans en geografie vir gr. 5-leerders aan.

“Ek het regtig nie gedink dat ek só ver in die kompetisie sal vorder nie, maar was wel beïndruk met die invloed wat ek oor die jare op die onderwys gehad het. Ek het dít eers besef toe ek aan my voorlegging vir die provinsiale toekennings gewerk het,” sê Cyster.

“Ek het myself ’n klop op die skouer gegee. Die toekennings wat ek ontvang het, is regtig die kersie op die koek. Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning van my leerders by die Dorothea-skool, my man en my ma, want ek sou nie dit sonder hul onderskraging bereik het nie.”

By die Dorothea-skool het Cyster die skool se administrasie en kommunikasie op die Google-platform geplaas, met e-posadresse, kalenders en gedeelde aanlyn drywers wat geskep is. Leerders is ook van e-posadresse voorsien en gewys hoe om daarmee te kommunikeer. Só is hulle lewensvaardighede geleer.

Danksy Cyster is dié skool ook in Julie amptelik as ’n Apple Distinguised School (ADS) aangewys – die eerste spesiale skool ter wêreld wat dié eer ontvang het. Sy het ook ’n kodering- en robotika-klas by die skool begin.

“Die skool is ook die enigste skool waar alle Apple-toestelle vir leerders en onderwysers geborg is,” voeg Cyster by.

“Danksy die gebruik van tegnologie in die klaskamers is leer meer toeganklik en inklusief vir leerders. Ek het ook die onderwysers opgelei om die toepassings se funksies te gebruik om die leerders te help met, onder meer, om beter te sien deur die zoom-funksie, die lees-vir-my-funksie, en die Chatterbox-app vir diegene met spraakprobleme. Die gebruik van tegnologie het die wêrelde van die leerders geopen.”

Sy glo vandag se skoolkinders en die jonger geslag leer meer visueel deur middel van toepassings, oudio, video’s en ander media en dat “die swartbord nie meer realisties is nie”.

“My droom is om nog onderwysers op te lei om tegnologie in die klas te gebruik, sodat hierdie idees nie by my ophou nie, maar aangaan,” sê Cyster.

“Ek hoop my werk sal my leerders selfversorgend en selfstandig maak en hulle vry maak om enigiets te doen; dat die gebruik van tegnologie leer vir hulle meer toeganklik en inklusief sal maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article