’n Man van Cloetesville is verlede Donderdag (13 Januarie) in hegtenis geneem weens poging tot moord nadat hy na bewering ’n wetstoepasser met ’n taxi probeer omry het.

Volgens die klaer was hy omstreeks 20:30 aan diens toe hy misdaadvoorkoming en ’n stop-en-deursoek-optrede in Khayamandi uitgevoer het toe hy ’n wit taxi voor ’n vermeende dwelmhuis gewaar het.

Die verdagte het teen ’n hoë spoed weggejaag toe hy die wetstoepasser sien en in Luyolastraat afgery en links in Sithobastraat afgedraai. Die klaer het hom gevolg en sy sirenes aangeskakel om hom tot stilstand te dwing. Die klaer het toe gestop, uitgeklim en na die verdagte geloop, waarna die verdagte die voertuig agteruit gery en reguit op die klaer afgery het.

Die klaer het terug na sy voertuig gehardloop en die taxi se registrasienommer ondersoek, waartydens vasgestel is dit is in Cloetesville geregistreer. Die klaer het na dié adres gegaan waar die verdagte se ma gesê het hy werk nagskof. Die klaer is toe na die man se werkplek, waar die veiligheidswag gesê het die verdagte het personeel gaan aflaai.

Die man is met sy terugkeer in hegtenis geneem. . Wetstoepassers het Maandag 10 Januarie omstreeks 17:55 ’n voertuig-patrollie in Cloetesville uitgevoer waartydens ’n verdagte met dwelms betrap is.

Een van die wetstoepassers het ’n verdagte man “met iets onder sy blad” gewaar en hom genader. By nadere ondersoek het die verdagte erken hy het ’n mes by hom. Die wetstoepasser het hom toe verder ondersoek en twee sakkies tik by hom gekry.

Die verdagte is ná ’n gestoei in hegtenis geneem en na die Cloetesville-polisiekantoor geneem.

Hy is aangekla van die besit van ’n gevaarlike wapen en die besit en gebruik van dwelms.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article