Die vrou wat aangekla word van die moord op haar susterskind in Jamestown sal nou ‘n nuwe regsverteenwoordiger aanstel.
Elizabeth Japie van Jamestown word aangekla van die moord op haar suster se seuntjie, Zandré Japie (6), wat glo deur sy ma na Stellenbosch gestuur is om plek in ‘n plaaslike skool te kry. Hy is egter ‘n paar dae ná sy aankoms in die Eikestad – op Vrydag 3 Mei – in sy tannie se huis in Jamestown dood aangetref.
Netwerk24 berig Japie se regsverteenwoordiger het vandeesweek aan die saak in die Stellenbosch-streekshof onttrek.
Die hof het in Junie gehoor dat die staatspatoloog, wat die lykskouing uitgevoer het, só geskok was deur sy bevindings dat hy die departement van maatskaplike dienste gekontak en aangeraai het om Japie se 12-jarige seun uit haar sorg te verwyder. Zandré is voor sy dood vermoedelik met onder meer ‘n knopkierie en ‘n sambok geslaan.
Die saak sal op 22 September in die plaaslike streekshof voortgaan.



