Marlé-Zanne Barnard
Die Stellenbosse Afrikaanse organisasie sonder winsoogmerk StudentePlein Metakampus het vandeesmaand die derde opeenvolgende jaar by AfriForum se nasionale universiteitsdebatkompetisie koning gekraai.
Die spanne het Vrydag 18 en Saterdag 19 Julie by die Hoërskool Montana in Pretoria meegeding, waar 14 spanne van oor die land heen bymekaargekom het. Ná die uitdunrondes is die agt beste spanne aangewys, met al drie StudentePlein-spanne wat deurgedring het – iets wat by ander universiteite opslae gemaak het. Teen Saterdag het drie StudentePlein-spanne die top-vyf gehaal, en dit het op ‘n alles-Stellenbosch-stryd neergekom: StudentePlein 1 teen Studente-Plein 2 in die eindronde.
Die debattema was: “Hierdie huis glo dat die prioritisering van Engels as lingua franca in Suid-Afrika ‘n voortsetting van koloniale hegemonie is, ten koste van ware meertaligheid en kulturele regverdigheid”.
Die StudentePlein 1-span (Ignus Ferreira, Righardt Pretorius, Neelsie van Dyk en Stephan Ehlers) het as regering opgetree, terwyl StudentePlein 2 (Megan Jones, Megan Kruger, Isabella Burgers en Simoné Shirley) die opposisie verdedig het.
“Dit was baie lekker om te weet dat ons ‘n nommer een en twee in die eindronde gehad het omdat dit toe die ronde makliker gemaak het. Ons kon net lekker sit en luister na die spanne sonder om ons oor ‘n oorwinning te bekommer; ons het darem geweet ons het ‘n StudentePlein-prys in die sakkie,” het die debatafrigter, Milda van Dyk, gesê.
StudentePlein 2 is uiteindelik as die wenner aangewys, met StudentePlein 1 tweede en StudentePlein 3 in die top-vyf.
Van Dyk is entoesiasties oor StudentePlein 3: “Ons is opgewonde oor wat hulle gaan behaal omdat dit hul eerste jaar van debat was en hulle nie regtig op skool aan debat deelgeneem het nie. Ons sien uit om hulle binne die volgende jaar of wat op die podium te sien.”
Megan Kruger is as beste spreker aangewys, terwyl Megan Jones die retoriekprys gewen het. Jones sê die waarde van dié kompetisie is vir haar “die samekoms en vriendskappe wat dit fasiliteer, die ruimte wat dit skep vir leer en probeer, en die viering van Afrikaans as taal wat dit voorstaan”.
“Om hierdie rede was my debat-ervaring ‘n oorwinning die oomblik toe ek die laaste woorde (‘die krag van kommunikasie’) van my toespraak met selfversekerdheid en oortuiging kon sê en nie eers toe ons as die wenners aangekondig is nie. Ek is eintlik oorweldig met dankbaarheid dat ons spannetjie ‘n pad met StudentePlein kon stap.”
Volgens die voorsitter, Tian Alberts, is hierdie oorwinning meer as net ‘n trofee. “StudentePlein is uitermate trots op ons spanne wat met uitstaande gehalte oorheersende uitslae op die nasionale studentedebatterrein behaal het. Dit is verkwiklik dat Afrikaanse studentedebat in Stellenbosch onder StudentePlein se sambreel kan voortleef en as
baken vir uitstaande Afrikaanse intellektuele afronding kan dien te midde van geldige kommer oor ‘n verlies daaraan onder Afrikaanse jongmense,” het Alberts gesê.
Met hierdie derde opeenvolgende oorwinning het StudentePlein sy status as een van die land se voorste Afrikaanse debatinstansies bevestig.




