Avril Fillies

Met nog net wedstryde teen UWK en Tygerberg om te speel, moet Van der Stel-

Evergreens (VDE) albei met bonuspunte wen om vir die topses van Superliga A te kwalifiseer.

SK-Walmers het VDE verlede Saterdag (2 Augustus) op tuisbodem met 40-29 geklop. VDE het gisteraand (Woensdag 6 Augustus) teen Ikeys op die Greenmile gespeel, maar die uitslag was teen druktyd nie bekend nie.

Tot voor gisteraand se wedstryd het VDE 11 wedstryde gespeel, ses gewen en vyf verloor. Die Stellenbossers lê tans in die agtste plek op die punteleer, met 32 punte.

Hul buurman, Maties, het Saterdag naelskraaps met 17-13 met Hamiltons afgereken en ook gisteraand vir Villagers in die Danie Craven-stadion gepak.

Die studente lê tans in die 12de plek op die punteleer, met 16 punte ná agt wedstryde. Saam met SK-Walmers en VDE baklei hulle om die sesde plek vir die topses van die kompetisie. Albei Stellenbosse spanne se lot hang van gisteraand se uitslae af.

In Superliga B is dit neusie verby vir Kylemore, wat waar- skynlik sy rugby volgende jaar in Superliga C sal speel. Hy lê laaste, met 12 wedstryde en sewe punte, en het nog net een wedstryd gelykop gespeel.

Franschhoek beklee tans die vyfde plek en is saam met Goodwood en Belhar op 41 punte ná 11 wedstryde. Kraaifontein is die voorloper in Superliga B.

In Superliga C verteenwoordig Pniël Villagers Stellenbosch en omgewing. Hy lê tiende, met 27 punte ná 11 wedstryde en pak Young Peoples Saterdag in Paarl.

In die Promosieliga blaas Raithby Universals in Blue Stars se nek, wat ná vier wed- stryde 15 punte het. Hulle beklee onderskeidelik die derde en tweede plek. Raithby het ná drie wedstryde 11 punte en kan Blue Stars verbysteek. Watsonia is die voorloper met 15 punte ná drie wedstryde.

Die ander Stellenbosch-spanne wat ná hul ligaverpligtinge in die Noordelike-liga nou die kans kry om in die Challenger-bekerkompetisie te speel, sluit in Stellenbosch-Coronations, Blakes, Cloetesville en Excelsior.

Die spanne is in Afdeling B en C verdeel. Cloetesville lê sesde in die B-groep met vyf punte ná twee wedstryde. In die C-groep is Stellenbosch-Coronations die voorloper met 12 punte ná drie wedstryde. Excelsior het vyf punte ná twee wedstryde. Blakes lê laaste met geen punte nie.

VDE se vroue is onoorwonne ná sewe wedstryde, spog met 34 ligapunte en het hul naaste teenstander kafgedraf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article