Terwyl die Kaapse Stadsraad planne beraam om teen 2050 beheer van treine oor te neem, is die Wes-Kaapse Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) steeds besig om plaaslike dienste te herstel.
Treindienste tussen Stellenbosch en Eersterivier word tans bedryf. Dit verbind pendelaars aan die groter Metrorailnetwerk. Hoewel Stellenbosch as geheel verskeie stasies het, is slegs die Stellenbosch- en Du Toit-stasies in gebruik.
Volgens ‘n woordvoerder van Prasa word die Koelenhof- en Muldersveli-stasies steeds geëvalueer. Dié twee stasies vorm deel van Prasa se herstelplan om stasies te herstel en op te gradeer.
Die plan volg nadat Metrorail treindiens- te tydens die Covid-grendeltyd opgeskort het. Dit het tot vandalisme van spoorinfra- struktuur en stasies gelei.
Sedertdien het die spooragentskap werk gemaak om treindienste in die provinsie stelselmatig te herstel. Treindieste in Stellenbosch is verlede Maart hervat. Pendelaars reis van die Eikestad na Eersterivier, of andersom, waar hulle dan oorklim na ‘n ander trein om by hul gewenste bestemming uit te kom.
LEES OOK: Rail service almost fully back on track
“Die heropening van bykomende stasies sal afhang van die voltooiing van uitstaande herstelwerk, veiligheidsinspeksies en sertifisering deur die Spoorwegsekuriteitsreguleerder (SSR),” het ‘n Prasa-woordvoerder bevestig.
Talle pendelaars was ná die pandemie genoodsaak om treine vir taxi’s te verruil. Volgens Prasa het sowat 60 000 plaaslike pendelaars maandeliks van die Stellenbosch-spoordiens gebruik gemaak en die strewe is om meer mense terug na treine te lok.
“Passasiersgetalle het sedert die herstel van dienste geleidelik verbeter. Hoewel die getalle steeds aan die herstel is, vergeleke met pre-Covid-vlakke, word Prasa aangemoedig deur die groeiende pendelaarsvertroue en gaan hy voort om betroubaarheid te verbeter om meer passasiers te lok.”
Veiligheid en die betroubaarheid van die treindiens bly pendelaars se grootste bron van kommer.
Die Kaapse Stadsraad sê egter hy kan die Kaapse spoordiens beter bestuur. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het vroeër vandeesmaand gesê die Stad Kaapstad sal beheer oor spoor- wegdienste, bates en infrastruktuur neem, met private maatskappye wat die dienste onder kontrak sal bedryf.
LEES OOK: Cape Town moves closer to taking control of passenger rail services
Intussen het Prasa aangedui herstelwerk aan infrastruktuur – insluitend elektriese kabels, seinstelsels en stasiefasiliteite – sal voortgaan en veiligheidswagte word ontplooi om die infratruktuur te beveilig.
‘n Enkele treinkaartjie in die Stellenbosch-korridor kos R10. ‘n Weekskaartjie (retoer; Maandag tot Vrydag) beloop R60, terwyl ‘n Maandag-tot-Saterdag-kaartjie R70 kos. ‘n Maandelikse kaartjie kos R180.
“Ons bly verbind tot die herstel van volle spoorwegdienste reg oor die Wes-Kaap, insluitend die Stellenbosch-korridor, as deel van ons mandaat om bekostigbare, veilige en betroubare openbare vervoer te verskaf,” sê Prasa.




