Die leerders van die deelnemende skole was deel van die amptelike verwelkoming van eerstejaar studente aan die US.
Plaaslike leerders het vanjaar aan die WOW Droomstappie deelgeneem.

Woorde Open Wêrelde (WOW) se eerste WOW Droomuitstappie (Dream Walk) vir gr.12-leerders is Woensdag 28 Januarie by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied.

Meer as 60 toppresteerders van Stellenbosch se omliggende skole het saam met hul ouers en onderwysers by die Jan Mouton-leersentrum op die US-kampus byeengekom. Die skole teenwoordig was Khayamandi Sekondêre Skool, Kylemore Sekondêre Skool, die Hoërskool Lückhoff, Makapula Sekondêre Skool en Stellenzicht Sekondêre Skool.

WOW-personeel asook WOW-studente aan die US het ‘n inligtingsessie aangebied om leerders voor te brei op die aansoekproses en slaagvereistes om aan die US te kan studeer. Jeneen Jooste, koördineerder van studentesake by WOW, was die aanbieder.

Ook aan die woord was Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder, en Xavier Benyani, ‘n WOW-student (onderwys) in sy finale jaar aan die US.

Leerders van Kylemore Sekondêr was deel van die WOW-droomuitstappie, waar hulle onder meer oor die aansoekproses van die US gehoor het.

Die WOW-span het nuttige wenke uitgedeel oor watter steun WOW bied in die aansoekproses en op universiteit, en watter finansieringsgeleenthede beskikbaar is. Van Kerwel het benadruk dat leerders inisiatief moet neem met hul aansoekprosesse vir studie en steun, en dat hulle op akademiese vlak moet presteer om daarvoor te kwalifiseer.

Daarbenewens het sy hulle aangeraai om hul akademiese sterkpunte te verken en om op studierigtings te fokus wat daarby aansluit.

“Verken jou eie kragte sodat jy met duidelikheid kan besluit in watter rigting jy wil studeer. Vanaand is ‘n eerste stap na jou akademiese loopbaan; skryf jou drome neer, beplan vir jou loopbaan en onthou om WOW te kontak wanneer jy ondersteuning benodig. Ons is tot jou beskikking en ons gaan jul skole besoek om met die aansoekproses te help, maar op universiteit is dit jou verantwoordelikheid om ons te laat weet as jy ons nodig het,” het Van Kerwel gesê.

Met die 50-skole-projek besoek die WOW-span Wes-Kaapse skole om met die proses te begin om gr.11’s en gr.12’s te help met studie-aansoeke by die US.

Die proses word deurlopend opgevolg en steun word regdeur ‘n student se stu-

dieloopbaan aan die US aangebied.

Die leerders van die deelnemende skole was deel van die amptelike verwelkoming van eerstejaar studente aan die US.

Die leerders het daarna die geleentheid gekry om hul loopbaandrome neer te skryf en by die US se amptelike verwelkoming van eerstejaars aan te sluit. Dit het ‘n staptoer deur die feestelik beligte kampus ingesluit, waar die rektor en visekanselier, prof. Deresh Ramjugernath, die studente verwelkom het.

“My droom is om ‘n rekenmeester te word, maar na dié sessie het ek besluit om te verken wat die universiteit bied wat my punte akkommodeer, en om seker te maak ek behaal daardie slaagvereistes,” het Asakhe Zokufa, ‘n matriekleerder van Makapula Sekondêr, gesê.

Die volgende toeligtingsessie vir omliggende skole is die WOW Opedag tydens die US se Opedag in April. Bywoning van die US Opedag is gratis, maar leerders moet onthou om van 18 Maart via Quicket te bespreek vir toegang tot inligtingsessies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article