Die span agter die beplande spesiale aanslaggebied (SAG) vir “Stellenbosch-Suid” het minder as ‘n maand om 312 stemme vir dié inisiatief in te samel, terwyl inwoners van Papegaaiberg op hul beurt begin het om ook hier ‘n spesiale graderingsgebied te stig.
“Stellenbosch het reeds suksesvolle spesiale aanslaggebiede, veral in Jonkershoek, wat sedert sy ontstaan tot beduidende misdaadvermindering sowel as sterk groei in eiendomswaarde gelei het,” verduidelik Stephen Brink, koördineerder van die Stellenbosch-Suid-SAG.
Inwoners wat binne ‘n SAG woon, betaal ‘n bykomende munisipale fooi – gewoonlik R100 vir elke miljoen van hul woning se eiendomswaardasie en R200 vir elke miljoen van ‘n sakeperseel. Hierdie geld word dan aangewend om aanvullende dienste in die betrokke gebiede te lewer. In Stellenbosch-Suid se geval is die dryfveer vir die SAG hoofsaaklik veiligheid.
Brink moedig dus inwoners in Brandwacht, Dalsig, Krigeville en Die Boord aan om in te koop op die “gemeenskapsgedrewe inisiatief wat belowe om veiligheid, netheid en algehele lewensgehalte in die suidelike voorstede van Stellenbosch te verbeter”.
Die bedrywighede van ‘n SAG word deur ‘n maatskappy sonder winsbejag bedryf, met ‘n raad, bestaande uit plaaslike inwoners, wat aan die stuur is. ‘n Groep inwoners van Papegaaiberg poog nou om ook ‘n SAG te stig.
Volgens Christiaan Rust, ‘n inwoner van Onderpapegaaiberg, loop inwoners in die buurt onder kleiner misdade deur, maar meer ernstige gevalle vind ook plaas.
Die idee om meer formele stap- roetes, kringtelevisiekameras en bykomende veiligheidsbeamptes in die buurt te hê, sal daarom ‘n aanwins vir die beplande SAG wees, sê Rust.
Die beplande SAG sal onder meer die Bosmanskruising, Plakenberg, Papegaaiberg, Devonvallei en die Tennetville-nywerheidsgebied insluit.
Benewens veiligheid moet ‘n SAG ook op sosiale opheffing en verfraaiing fokus, soos voorgeskryf deur die Stellenbosch-munisipaliteit se verordeninge vir ‘n SAG. “Ons sit met drie verskillende begraafplase in Papegaaiberg en dit is waar baie van die rooftogte plaasvind. Hoe hou ons dit oop en veilig? Hier kan ‘n SAG ‘n rol speel met ‘n gestruktureerde plan om heinings te plant. Party mense wil die grafte sien, ander nie, dus kan ‘n SAG help om dit mooi te maak en veiliger te hou,” verduidelik Rust.
Hy sê hoewel dit in dié stadium ‘n struikelblok is om by huiseie- naars in die buurt uit te kom aangesien sommige eienaars nie self in hul eiendomme woon nie, was die reaksie van sakelui baie positief.
Vir die stigting van ‘n SAG moet meer as 60% van grondeienaars in die betrokke gebied skriftelike toestemming gee.
In Stellenbosch-Suid beteken dit minstens 851 stemme is voor Dinsdag 30 September nodig.
“Die Boord het baie grondeienaars wat nog nie gestem het nie. Inwoners in al vier voorstede word dus versoek om vinnig op te tree en te verseker dat hul stemme gehoor word,” sê Brink.
Rust sê op sy beurt aangesien die sperdatum vir indiening van ‘n SAG-aansoek aan die munisipaliteit in September is, is die plan om volgende jaar genoeg ondersteuning te hê.
• Stuur navrae per e-pos na stellenboschsouthsra@gmail.com vir inligting oor die Stellenbosch-Suid SAG, en na admin@psra.org.za vir inligting oor Papegaaiberg se SAG.





