Die vervaardigers van die gewilde kykNET koswerklikheidsreeks Kokkedoor: Klassiek is weer op soek na die land se beste kokke – en dié keer trek die televisieprogram ‘n klassieke baadjie vir die nuwe seisoen aan.
Kokkedoor: Klassiek bied ’n platform propvol uitdagings, wat deelnemers se vaardighede voor die stoof ongetwyfeld met rasse skrede gaan verbeter en hulle dikwels die geleentheid gaan gee om hulself te oortref.
Dis beslis nie ’n kans wat enige onthoukok óf kinkelkok durf misloop nie.
LEES OOK: Kokkedoor: Son & See – nuwe seisoen met unieke inskrywings

Meer as net kos
Onder die bekwame leiding van ervare, bekende kosmense gaan hierdie die kulinêre avontuur van ’n leeftyd wees. Deelnemers gaan nuwe vriende maak, nuwe tegnieke leer en die geleentheid kry om te wys hoe hulle met enige gereg kan toor.
Die kosfoendies Herman Lensing en Jess van Dyk is die seisoen se beoordelaars.
Lensing is so deel van die Suid-Afrikaanse koswêreld soos die kaneelsuiker op ’n warm pannekoek op ’n reënerige dag. Dié kosskrywer, tydskrif-redakteur en TV-persoonlikheid het sy liefde vir kos by sy ma doer in Upington gekry.
Vandag, met talle topverkoperkookboeke, toekennings en erkennings op sy kerfstok, is hy een van die land se invloedrykste en mees geliefde ster-kokke.
Lensing, wat as ’n sjef by die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch gekwalifiseer het, was ook ’n beoordelaar vir die onlangse Kokkedoor: Son & see, die 10de seisoen van die reeks wat deur die mense van Aberdeen se Kamdebo-padstal gewen is: Hanna van der Westhuizen en haar seun, Dirk.
Van Kuruman tot kassie
Kosfoendies raak opgewonde wanneer jy Van Dyk se naam noem.
Sy is deesdae die hoofsjef en eienaar van Post & Pepper-restaurant, wat in 2022 sy deure in Stellenbosch geopen het. Dis ’n intieme restaurant wat haar eie kookfilosofie weerspieël: bestanddeelgerigte kos, tegniese presisie en warm, deurdagte gasvryheid.
Van Dyk het ’n diepe waardering vir “klassieke” kosmense soos Nigella Lawson, Rick Stein en Gary Rhodes.
Daar moet iets in die Noord-Kaap se water wees, want dis in Kuruman waar sy met resepte grootgeword het wat van geslag tot geslag oorgedra is en jy maar kan vergeet om in die hande te kry. Hierdie resepte word bewaar asof dit staatsgeheime is.
“Net soos elke voornemende deelnemer is ek kinderlik opgewonde en senuweeagtig, want hierdie is net so ’n ongelooflike geleentheid vir my ook,” vertel sy.
“My liefde vir kos het begin by my ouma se kospotte, maar dit het veral vlamgevat toe ek BBC Food se sjefs op die kassie leer ken het. Toe begin ek om daagliks ná skool ‘TV-broodjies’ of bloot net tuna melt in ons kombuis te maak. Ek het bakkies met gekerfde uie, mosterd en alles en nog wat uitgesit, nes die TV-sjefs dit gedoen het, en dan het ek stap vir stap die proses voor ’n kamma-kamera verduidelik.”
‘Volsirkel-oomblik’
In haar indrukwekkende loopbaan het sy al by verskeie veelbekroonde restaurante gewerk, soos La Colombe naby Constantia, waar sy in 2012 ná haar studies by die vooraanstaande Silwood-sjefskool begin werk het.
Hier het sy later die sous-sjef en uiteindelik die hoofsjef geword.
Die La Colombe-restaurantgroep het Van Dyk in 2019 as hoofsjef by die Protégé-restaurant in Franschhoek aangestel, en sy was lid van die span wat La Colombe na Silvermist geskuif het.
Stilsit is nie in haar gene nie. Sy was ook ’n jaar lank ’n private sjef op ’n luukse seiljag in die Mediterreense See.
“Om nou ’n Kokkedoor-beoordelaar te wees, is werklik ’n volsirkel-oomblik vir my. Nog voordat ek geweet het van Michelin-sterre en die wêreld se top-50-restaurante het ek daarvan gedroom om op TV met kos te kan werk. En hier is ons nou! Ons het ’n baie ryk geskiedenis van besonderse kosstories in ons land en huise, en as ons dit nie vertel en deel nie, gaan dit verlore raak,” meen Van Dyk.
“Daar is niks meer spesiaal as om jou familieresep op nasionale televisie te kan deel nie. Ons wil al die boererate, kitswenke en lekkernye sien en by jou leer – dit is bietjie van die oue gemeng met bietjie van die nuwe.”
LEES OOK: Kokkedoor trek nuwe braaivoorskoot aan met Kokkerdoor Vuur & Vlam





You must be logged in to post a comment.