Die borgtogaansoek van die 55-jarige man van Franschhoek wat teregstaan op aanklagte wat met kinderpornografie verband hou, is tot Donderdag 2  Oktober uitgestel.

Eikestadnuus het betroubaar ver-neem dat die staatsaanklaer wat die saak hanteer, ‘n sterfgeval in haar familie ervaar het.

Die C-hof in die Paarl-landdroshof gaan ook volgende week geen sake aanhoor nie, het die landdros die afgelope Dinsdag (16 September) gesê.

AO James Smith, die ondersoekbeampte in die saak, sou Dinsdag deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger in kruisondervraging geneem word.

Die beskuldigde is verlede maand (op Saterdag 16 Augustus) by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem nadat ‘n video op sosiale media die ronde gedoen het waarin hy glo met ‘n tienermeisie in skooldrag seksueel verkeer.

Smith het verlede week getuig dat die video vermoedelik in Oktober verlede jaar gemaak is toe die beweerde slagoffer 16 jaar oud was.

Hy het ook onthul dat ‘n nuwe saak intussen teen die beskuldigde aanhangig gemaak is nadat hy glo ook ‘n 11-jarige meisie, wat nou 13 is, betas het. Sy is volgens Smith een van die leerders wat deur die man vervoer is.

Smith het gesê die 13-jarige gaan ook ‘n getuie in die lopende saak teen die man wees.

Die beskuldigde het in sy vorige twee verskynings volgehou dat die tienermeisie die versoek gerig het dat die twee van hulle op minstens twee geleenthede seksueel verkeer en sy het, volgens hom, versoek dat die dade gedokumenteer word.

Die beskuldigde het ook sowat twee weke gelede getuig dat die tienermeisie die video’s met sy selfoon geneem het.

Volgens die beskuldigde het hy minstens twee video’s op ‘n hardeskyf gestoor en dit van sy foon af verwyder.

Die hof het verlede week gehoor dat die polisie eersdaags ook op hierdie toestel gaan beslag lê.

Die beskuldigde is ‘n veroordeelde seksmidadiger wat in 2017 aan statutêre verkragting van ‘n 17-jarige skuldig bevind is. Hy is in daardie stadium deur die Paarl-streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê.

“Die beskuldigde voor hierdie hof het duidelik geen berou getoon nadat hy voorheen op soortgelyke aanklagte skuldig bevind is nie.

“Hy het geen respek vir hofprosesse nie, aangesien hy homself weer op minderjariges afgedwing het. Hoekom hy kinders verkies om hierdie seksdade mee uit te voer, weet ek nie,” het Smith verlede week getuig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article