Avril Fillies
Die kragmeting tussen Van der Stel-Evergreens (VDE) en Tygerberg op Floridapark in Ravensmead Saterdag (23 Augustus) is van kardinale belang vir die Stellenbossers om te bepaal of hulle vir die topses-kompetisie wat op Saterdag 6 September op City Park in Athlone afskop, sal kwalifiseer.
VDE moet met ‘n bonuspunt wen om die prestasie te behaal, maar dit gaan nie so maklik wees om die Tiere op hul tuisbodem te klop nie. Ongeag of VDE gaan kwalifiseer of nie – hulle het vriend en vyand in Super-
liga A verras om in die eerste jaar van deelname onder die topagt op die punteleer te eindig.
Maties het Woensdagaand teen Ikeys op die Green Mile gespeel – ‘n herhaling van die Varsitybekereindstryd waar Maties die knie moes buig. Teen druktyd was die uitslag nog nie bekend nie, maar dit was voor die wedstryd duidelik dat Maties nie gaan toelaat dat oor hulle geloop word nie. Die hele klubrugbyseisoen moes die Maroentruie inhaal op hul agterstallige wedstryde.
In Superliga B het Fransch-hoek derde geëindig en vir die topses kwalifiseer, waar hulle Collegians gaan pak.
In Superliga C het Pniël Villagers vyfde geëindig en hy speel teen Rangers van Athlone in die topses.
In die Promosieliga beklee Raithby Universals die tweede plek op die punteleer ná sy 15-37 teen Rocklands in Mitchells Plain die afgelope naweek.
Die ander plaaslike span in dié liga, Blue Stars United van Klapmuts, is vyfde en moes Saterdag op tuisbodem die knie teen die ligavoorloper, Watsonia Warriors, met 17-39 buig.
Albei spanne is Saterdag 30 Augustus weer in aksie, met Raithby wat kragte met Elsierivier op laasgenoemde se tuisveld meet en Blue Stars wat gasheer vir Fisantekraal sal speel.
In die Challengerbeker-kompetisie is drie Stellenbosse spanne betrokke, Stellenbosch-Coronations, Excelsior, Blakes en Cloetesville, en al drie het die afgelope naweek bloutjies geloop. Excelsior het in Paarl naelskraaps met 24-21 teen Windmeul United verloor, Titans was in Grassypark met 21-13 te sterk vir Corries en Blakes is met sy hoed in die hand terug Stellenbosch toe gestuur ná sy 28-0-loesing teen Khayelitsha.
Al drie spanne is weens die toets tussen die Springbokke en Wallabies in die DHL-stadion eers weer op 30 Augustus in aksie. Cloetesville speel dan in Groep B teen Retreat. In Groep C speel Corries teen Windmeul United in Idasvallei, Excelsior teen Khayelitsha op laasgenoemde se tuisveld, en Blakes reis na die Helderberg vir hul stryd teen Faure.





