Firefighting in the Cape Winelands District Municipality. This fire occurred in Ida's Valley, Stellenbosch.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se brandweerdienste het Donderdag 6 Januarie vinnig gereageer en ’n brand agter Idasvallei in bedwang gebring.Foto: Mart-Marié Serfontein


“Dit is die noodsaaklike kombinasie van grondspanne, vaardige brandbestryders en die betroubare vennootskappe tussen hulle wat ’n potensieel verwoestende brand voorkom het.”

Só beskryf Jo-Ann Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, die suksesvolle poging om ’n potensieel verwoestende brand te blus.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se brandweerdienste het Donderdag 6 Januarie vinnig gereageer en ’n brand agter Idasvallei in bedwang gebring.

Die brand het, volgens bronne, in ’n beboste gebied, wat deur huise en sakeondernemings omring is, opgevlam. “Weens ’n kombinasie van faktore is vinnig vasgestel dat die brand die potensiaal het om verwoesting onder die omliggende eiendomme te saai. Hierdie faktore was die hoë brandstoflading wat deur dennebome en ander plantegroei verskaf word, die brand se nabyheid aan infrastruktuur, en die moeilike terrein.”

In reaksie hierop het die KWDM onmiddellik lughulpbronne, twee gekontrakteerde grondspanne, brandbestrydingspanne en voertuie van die Stellenbosch- en Nieuwedrift- (Wellington) brandeenhede geaktiveer.

Die KWDM se vennootorganisasies, die Wynland-brandbeskermingsdienste (BBV) en Stellenbosch-munisipaliteit se brandweerdienste het ook hul hulpbronne by die stryd gevoeg. “Die brandweerspanne kon die hoofbrand deur ongelooflike spanwerk binne ’n uur in bedwang bring. Die brandbestryders het egter tot diep in die nag voortgegaan met monitering en opruiming.”

Otto sê dit is belangrik om daarop te let dat nie alle brande lughulpbronne benodig nie en dat waterbombardering alleen nie ’n brand sal blus nie. “Dit was die kombinasie van risikofaktore en die potensiaal vir skade aan eiendom wat tot die spoedige ontplooiing van lughulpbronne gelei het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article