Of dit nou ’n mikrofoon voor haar of ’n haarborsel in haar hand is, is die Stellenbosser Joslyn Abrahams ewe tuis tussen die frekwensies van ’n radio-uitsending en ’n haardroër.
Abrahams (27), ’n radio-joernalis van Idasvallei, het onlangs – net twee maande gelede – haar hand aan entrepreneurskap gewaag en haar eie haarsalon, Styled by J&J, geopen.
“My droom was nog altyd om ’n suksesvolle sake-eienaar te wees en om werk in my gemeenskap te skep. Entrepreneurskap het my perspektief redelik kom verander, en ek kan sê dit het my meer verstandig kom maak,” sê sy.
Styled by J&J beïndruk reeds en lok gereeld plaaslike TV-persoonlikhede. “Die salon doen redelik goed. Ons ontvang daagliks toeriste, akteurs en baie plaaslike mense van die dorp. Ons is in Ryneveld Plaza in die hartjie van die dorp geleë – so, dis baie toeganklik.”
Abrahams sê haar pa se dood het haar aangespoor om die haarsalon te begin. “Ek was nog altyd passievol daaroor om mense se hare te doen en om hulle mooi te laat lyk. Ná my pa se dood in 2021 het ek noodgedwonge gevoel om my eie onderneming te begin en om werk vir mense in my gemeenskap te skep,” voeg sy by.
“Ek dink die saadjie het ontkiem toe ek destyds, midde die inperkings, self my ouers se hare tuis moes doen. Ek het my oorlede pa se hare gereeld gesny en ook my ma se hare opgedollie. Ek wou altyd iets begin waarop ek, my familie en ons gemeenskap trots kan wees.”
Sy vertel sy was aan die begin angstig, maar het vinnig oor daardie vrees gekom. “My ma sê altyd om foute te maak, is deel van die leerproses. Vir my is dit baie belangrik om in my produk en my dienslewering te glo, al glo iemand anders daarin nie. By Styled by J&J kies ons gehalte eerder as volumes. Hier is honderde salonne in die dorp, maar ons glo ons produkte en dienslewering gee mense die rede om ons te kies.”
Haar raad aan jong entrepreneurs is om jou droom en passie uit te leef. “Behandel elke kliënt met dieselfde gesindheid en respek.”
Abrahams sê om terug te gee aan die gemeenskap, gaan Styled by J&J ’n minderbevoorregte matriekleerder vir hul matriekafskeid gratis optooi. “Benoemings is reeds oop en inwoners kan ’n matriekseun en -meisie, wat dalk nie so bevoorreg is nie, benoem. Die salon sal hom en haar op die dag van hul matriekgeleentheid met ’n gratis haardiens bederf. Die benoemingsproses is eenvoudig – jy benoem iemand deur meer uit te brei oor sy/haar omstandighede. Wanneer die benoeming ingedien word, benodig ons sy of haar naam en van en die naam van die skool waar die leerder matrikuleer. Ons volg dit dan met die skool op vir meer inligting rakende die leerder en wanneer die matriekafskeid geleentheid plaasvind,” voeg sy by.





