Die 55-jarige man se gesig was Saterdag (16 Augustus) bedek toe hy by sy Franschhoek-woning in hegtenis geneem was.

Die staat het die afgelope Maandag (18 Augustus) in die Paarl-landdroshof gesê hy sal volgende week borgtog teenstaan vir ‘n 55-jarige man van Franschhoek wat vir die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie in hegtenis geneem is.

Volgens die staat het die twee beweerde slagoffers hom vertrou en die feit dat hy in 2017 aan ‘n soortgelyke oortre- ding skuldig bevind is, is genoeg rede om hom nie op borgtog vry te laat nie.

Die man is die afgelope Saterdag (16 Augustus) omstreeks 07:00 by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem en het Maandag in die Paarl-landdroshof verskyn.

Sy identiteit word weerhou om die vermeende slagoffers te beskerm.

Hy het ook nog nie gepleit nie en sal aanstaande Dinsdag (26 Augustus) om borgtog aansoek doen.

Sy inhegtenisneming hou verband met video’s wat vroeër vanjaar aanlyn versprei is, waarin hy glo seksueel met twee tienermeisies verkeer. Een van die tienermeisies was in haar skooldrag.

Die polisie se eenheid teen reeks- en elektroniese misdade (SECI) het Saterdag op die man se selfoon beslag gelê, het kol. Frederick Rossouw, die bevelvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, by navraag gesê.

Eikestadnuus het betroubaar verneem dat die polisie die man se bewegings al vir ‘n geruime tyd dophou.

Hy het in ‘n stadium by vermoedelik familielede in Strand gaan kuier toe gemoedere in Franschhoek hoog geloop het nadat die video’s gesirkuleer het.

Die polisie het aanvanklik eers ‘n lasbrief bekom om op sy selfoon beslag te lê en die inhoud daarvan af te laai.

“Hy was waarskynlik bewus dat die polisie op soek was na hom en dis hoekom hy Strand toe gevlug het – min wetende dat die polisie presies geweet het waar hy was,” het ‘n betroubare bron na aan die saak Saterdag gesê.

“Al het hy ook daai video’s delete, het die polisie spesiale eenhede wat sal weet hoe om dit op te spoor, asook enige boodskappe wat tussen hom en die tienermeisies gestuur is.”

Die staat het Maandag aangevoer dat die man al voorheen aan statutêre verkragting skuldig bevind is.

Die koerant kon by nadere ondersoek vasstel dat hy in 2017 deur die Paarl-streekhof vir statutêre verkragting van ‘n 17-jarige skoolmeisie skuldig be- vind is en ‘n opgeskorte vonnis gekry het.

Die voorval het tot swangerskap gelei, maar die slagoffer het later die baba weens ‘n miskraam verloor.

Haar ma het ook Maandag se hofverskyning bygewoon.

Sy het aan die koerant vertel dat die man haar dogter al van 11-jarige ouderdom af glo seksueel voorberei het.

Sy sê dit het eers uitgekom toe haar dogter 17 jaar oud was.

“Om daai man in die hof te sien, het net weer ou wonde oopgekrap. Hy toon baie duidelik geen berou nie,” het die ma gesê.

“Daar is baie kinders van wie ek weet aan wie hy soortgelyke dade gedoen het. Dit kom al vir baie jare aan en kan nie net elke keer onder die mat gevee word nie. As ek terugkyk, is ek vandag eintlik bly dat my dogter die babatjie verloor het.

“Ons sal volgende week weer hier by die hof wees. Ons hoop dat sy borgtogaansoek teengestaan sal word.”

Die ma wou ter wille van haar dogter se privaatheid anoniem bly.

Volgens haar het van die familielede van die 55-jarige verdagte haar glo Maandag by die hof sleggesê.

Eikestadnuus verneem die man het homself glo as ‘n pastoor in die gemeenskap voorgedoen.

“Hy doen homself al jare as ‘n pastoor voor en dis een van die wyses waarop hy die gemeenskap manipuleer. Sy eie kerk het aan my bevestig dat hierdie man g’n pastoor is nie. Hulle [die kerk] sou nog aksie teen hom neem, maar dit het nog nie gebeur nie,” het ‘n gemeenskapsaktivis gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article