kykNET se gewilde werklikheidsreeks In die sop trek ‘n ander baadjie met ‘n splinternuwe aanbieder aan vir die vierde seisoen van die reeks.
Die fokus verskuif van restaurante na gastehuise in en om Kaapstad, in Gauteng en langs die N1-roete.
Is jy raadop met stadige besprekings of keelvol vir klaende gaste? Is jou gaste huis dalk in die sop? Soms is dit net ‘n vars kennersoog wat nodig is om jou gastehuis weer winsgewend te maak en te sorg dat gasvryheid weer sy regmatige plek saam met jou gelukkige gaste aan die vol hooftafel inneem. Hierdie is dalk net die reddingsboei wat jy nodig het.
Aan die stuur van sake is Janie du Plessis, daardie aanvallige rabbedoe wat in die 1980’s as aanbieder van gewilde joernaalprogramme vir jong mense soos Teletien en Graffiti op al wat ‘n tydskrifvoorblad gepryk het. Sy was destyds ook saam met Arnold Vosloo te sien in die trefferrolprente Boetie gaan border toe (1984) en Boetie op manoeuvres (1985).

Oor die afgelope 40 jaar het Du Plessis een van die bekendste glanspersoonlikhede op TV geword. Maar dis nie net deftige kapsels, ligte en kameras vir haar nie. Sy’t ‘n goeie sakekop op haar skouers, én sy het deeg- like eerstehandse kennis van gastehuise.
Die afgelope 10 jaar het sy die land deurkruis met haar liefdadigheidswerk, wat haar elke week in gastehuise laat beland het.
‘n Bekende lid van die In die sop-span, Misi Overturf, vorm saam met Griki Lubbe (‘n binne-ontwerper in Kaapstad) en Willus Bosch (‘n ervare opknapper, interieurkenner en eienaar van Maison Cape Town) die gedugte taakspan. Dié drie gaan beurte maak met hulp aan die gastehuise.
• Om in te skryf, besoek www.kyknet.tv vir die inskryfvorm of stuur e-pos na inskryf@indiesop.tv. Inskrywings sluit Donderdag 31 Julie en die reeks sal vroeg in 2026 uitgesaai word.





You must be logged in to post a comment.