Nataniël bring vandeesmaand sy gewilde Gesels 2025-leefstylpraatjie na die Drostdy-teater.

Ná meer as ses jaar se suksesvolle Gesels-aanbiedinge bring Nataniël dié snelgroeiende projek uiteindelik na die Kaap, met dié leefstylpraatjie wat op Saterdag 22 November by die Drostdy-teater in Stellenbosch aangebied word.

Soos elke vorige jaar het Gesels 2025 ‘n unieke tema: “Die ratkas van ‘n keuse”.

Op of af? Reg of verkeerd? Links of regs? Eet ek dit of los ek dit? Loop ek of bly ek?

Met elke keuse is daar ‘n masjien met ‘n miljoen ratte wat sy werk moet doen – van jou ingebore neigings tot jou opvoeding, omgewing, oortuigings, invloede en gesondheid, vervul elkeen ‘n rol in elke keuse wat gemaak word.

LEES OOK: Maties vier 10 jaar van Tuiskoms

Nataniël kom kuier in November weer in die Eikestad.
Nataniël kom kuier in November weer in die Eikestad.

Kyk hoe lyk ons wêreld – die resultaat van keuses!

Hoe ver strek die gevolge van ‘n vinnige besluit? Is alles dan belangrik? Hoe ontspan ek ooit weer?

Hierdie onderskatte daad word van alle kante bekyk met insiggewende, skreeusnaakse en verrassende ontdekkings.

Met stories, deernis, vrae, antwoorde, vermaaklikheid, eerlikheid, persoonlike oortuiging en alle erns takel Nataniël weer eens ‘n yslike onderwerp.

Gehoorlede kan vrae vooraf in ‘n houer plaas en Nataniël bespreek hierdie kwessies dan van die verhoog af – ‘n hoogtepunt vir vele!

Die 90-minute-praatjie begin om 15:30. Geen kinders onder 14 jaar word toegelaat nie.

‘n Kaalkopwinkel met boeke, keramiek, geskenke, kerse, musiek en kombuisolies sal in die foyer beskikbaar wees. 

Kaartjies kos R310 elk; bespreek jou plek aanlyn hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article