Ná meer as 40 jaar in die onderwys — waarvan die laaste jare as trotse skoolhoof van die Hoërskool Lückhoff was — neem ek nou afskeid, nie net van ’n beroep nie, maar van ’n roeping wat my lewe gevorm het. My tyd by Lückhoff het as ʼn skugter graad 8-leerder van Vlottenberg in Januarie 1974 begin, en in Julie vanjaar as hoof geëindig.
Dit was gevul met betekenisvolle oomblikke: uitdagings wat ons saam oorkom het, oorwinnings wat ons gevier het, en jong lewens wat voor my oë gegroei en opgebloei het, asook afskeid van kollegas en hartseer oomblikke wanneer ons by die ope graf van leerders moes staan.
Dit is nooit net ’n beroep om in die onderwys te wees nie — dit is ’n roeping om te dien.
Ek vertrek met diepe dankbaarheid vir elke opvoeder, leerder, ouer, beheerliggaam en ondersteuner wat hierdie pad saam met my gestap het. Julle het my lewe verryk. My wens is dat my nalatenskap nie in titels, prestasies of trofeë gemeet word nie, maar in die harte en drome van die leerders wat ons hier probeer bemagtig het — elkeen met potensiaal, elkeen met waarde, elkeen wat die beste van hulself gelewer het, ten einde ons skool se naam te eer.
Vanjaar is ’n besondere jaar vir Lückhoff, want ons vier ons 90ste bestaansjaar — ’n merkwaardige mylpaal. Ons dra ’n trotse nalatenskap van deursettingsvermoë, gemeenskapsbetrokkenheid en ʼn kultuur van uitnemendheid. Dit lê in die opvoeders wat dag ná dag hul roeping uitleef, toegewyde ouers en trotse leerders. Lückhoff se gees is groter as enige individu, en dit sal bly voortleef in elke klas, op elke sportveld, en in elke lied wat ons kinders sing.
En wat van die derby wat voorlê? Ek voorspel sonder huiwering: Lückhoff gaan wen!
Nie net oor talent of vaardigheid nie, maar oor daardie unieke Lückhoff-gees — iets wat jy nie kan aanleer nie, dit leef in ons almal.
Ons leuse is “Opvoeding is lig”, en dis my wens dat die Lückhoff-vlam altyd sterk en helder sal bly brand, en warmte en skooltrots sal uitstraal.
Ek groet met trots, liefde, vrede en vreugde in my hart, en die wete dat ons sal voortbou op die goeie.
Chris Jooste,
Voormalige hoof, Hoërskool Lückhoff





