Die Universiteit Stellenbosch (US) vier dié naweek ‘n dekade van tradisie met die 10de Tuiskomsnaweek vir alumni en vriende van die universiteit.
Aktiwiteite van breë belang vind van Donderdag 11 tot Saterdag 13 September plaas.
Die Fakulteit Teologie vier 25 jaar sedert die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika sy bedieningsopleiding na die US verskuif het. Universiteits- en kerkleiers, voormalige en huidige studente, en voormalige dekane sal op Vrydag 12 September besin oor die fakulteit se rol as ʼn tuiste vir almal.
Die Departement Landbou-ekonomie vier ‘n belangrike mylpaal: 100 jaar van bemagtiging van landbou deur die ekonomie. Die departement bied Vrydag ‘n reeks boeiende en aktuele besprekings aan.

‘n Verdere hoogtepunt is ‘n spesiale rugbywedstryd Saterdag om 16:00 tussen die Maties en die Universiteit van Kaapstad om 150 jaar van Maties-rugby – een van die wêreld se bekendste amateurrugbyklubs – te vier. ‘n Legendes-galadinee Vrydagaand sal die geleentheid voorafgaan, ter viering van 150 jaar van uitnemendheid en om beursgeld vir studente in te samel.
Ander hoogtepunte sluit in die Matieland-konsert met Nataniël, Margit Meyer-Rödenbeck, Dean Smith en ander; ‘n gholfdag, ‘n teatervertoning met opkomende studentesterre wat gehore boei met hul optredes; ‘n Matie-wynmaker-geleentheid deur meer as 20 bekroonde alumni-wynmakers om 100 jaar van Pinotage te vier; en verskeie klas- en koshuisreünies.
Die US sal ook verskeie historiese mylpale vier, insluitend Harmonie-koshuis se 120ste bestaansjaar, Simonsberg-koshuis se 70ste verjaardag en Erica-koshuis se 50ste. Verskeie klasgroepe vir rekeningkunde (honneursstudente), regsgeleerdheid (LLB), geneeskunde (MBChB) en die MBA-graad sal ook byeenkom om mylpale te vier.
Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, kyk terug op hoe ver die tradisie gekom het. “Jy besef dit eers regtig wanneer jy weg is – wanneer jy jouself in die wêreld van werk bevind – hoe die US eintlik ’n ware tuiste was, en hoe sterk daardie ‘gevoel van behoort’ en nostalgie kan wees. Die afgelope 10 jaar het die Maties-alumni se Tuiskomsnaweek daardie tradisie opgebou, en elke jaar bring dit daardie gevoelens weer by duisende alumni tuis. Vir ’n paar dae besoek jy nie net ’n kampus nie – jy is weer deel van ’n gemeenskap wat nooit vervaag nie.”
. Kaartjies vir alumni en vriende van die US is aanlyn deur Quicket te koop.







You must be logged in to post a comment.