Plantkunde en fotografie asook kuns ontmoet vir die vierde jaar danksy die uitstalling van botaniese kuns en fotografie wat nou by die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuine te sien is.
Die nuwe uitstalling is Vrydag 2 Oktober amptelik met ‘n handjievol gaste bekendgestel.
Karen Steward is die kurator van die uitstalling en het ‘n verskeidenheid van nuwe en gesoute kunstenaars van uiteenlopende mediums bymekaar gebring. Besoekers aan die tuine se kunsgalery kan onder meer uitsien na ‘n diverse reeks plante wat vasgevang is as foto’s en sketse, sowel as wol wat deur Margaux Newdigate met fynbos gekleur is.

Dié uitstalling is in 2023 deur wyle dr. Don Kirkwood, voormalige kurator van die botaniese tuine, begin in die hoop dat die kuns en foto’s besoekers sal inspireer om verlief te raak op plante.
Al die betrokke plante is endemies aan die Kaap en vang die spesies in ‘n spesifieke oomblik in hul in lewensiklus vas.
LEES OOK: Historic botany-art exhibit launched at SU Botanical Gardens
Volgens Annerie Senekal, kurator van die botaniese tuine, toon die kunswerke die plante “op hul beste”, maar ook in tye wanneer mense nie eens besef die plante is besig om te groei en verander nie. Senekal meen die kunswerke vertel die storie van bewaring op nuwe maniere en bied ‘n tasbare kykie na hoekom die tuine se werk belangrik is.
Byna ‘n kwart van die Wes-Kaapse flora word beskou as óf bedreig met uitwissing óf van bewaringsbelang. Steward meen die botaniese kunstenaars is van die kundigste en passievolste plantliefhebbers en hul werk help om as burgerwetenskaplikes andere se houdings en begrip oor die belangrikheid van indemiese plante te verander.

Onder die kunstenaars wie se kuns vir die eerste keer uitgestal word is Zaitoon Ebrahim, Lee Corlett, Simon Attwood en Peter Thompson. Sommige van die werke wat uitgestal word, was vroeër vanjaar deel van die James and Shirley Sherwood Botanical Art Collection se eerste permanente versameling botaniese kuns wat in Mei bekendgestel is (“Historic botany-art exhibit launched at SU Botanical Gardens”). Meer gevestigde botaniese kunstenaars soos Daleen Roodt, Vanessa Macfarlane en Matthew Moir se werke is ook te sien.
Die uitstalling is te sien by die tuine tot Sondag 1 November.




You must be logged in to post a comment.