Die Maties-netbalspan het vroeër vandeesweek twee oorwinnings behaal in hul Varsity Netbal-kragmetings teen Madibaz en UP-Tuks.
Die wedstryde is Sondag 7 en Maandag 8 September in die Rembrandt-sportsaal in Pretoria gespeel. Die Stellenbossers het Sondag in hul kragmeting met Madibaz ‘n 44-29-sege behaal en Maandagaand, in die hoofwedstryd voor die tuisspan se skare, ‘n 36-47-oorwinning aangeteken om die vierde plek op die punteleer te beklee.
Maties moes sterk terugveg om die 11-doel-oorwinning te beklink. UP-Tuks het vroeg sterk weggespring en ná die eerste 15 minute ‘n skrale 12-11-voorsprong geniet.
Die Maroen Masjien het egter by hul wedstrydplan gebly en sterk teruggekom ná die breek, terwyl die tuisspan nie hul kanse behoorlik benut en in punte omgeskakel het nie. Die Stellenbossers het dít tot hul voordeel gebruik en hulle het beheer van die wedstryd geneem om teen halftyd met 19-24 voor te loop.
Daarna het die Kapenaars op hul voorsprong voortgebou. Tuks het die kans gehad om dinge met ‘n paar omsette te verander, maar Maties het sterk gestaan. Dit was veral die verdediging van Syntiche Kabuya, wat in die laaste 15 minute ‘n deurslaggewende rol in haar span se 36-47-oorwinning gespeel het.
Die span het hul ritme Sondag gevind en die span van Madibaz met 15 punte geklop. Die Maroen Masjien het ‘n sterk vertoning gelewer om met 44-29 te seëvier.
Soos verwag was die eerste kwart taai met min skeiding tussen die twee spanne. Maties het hul kanse met ‘n meer kliniese benadering benut en in die eerste 15 minute met 9-6 voorgeloop.
Die Stellenbossers se spoed in oorgangspel in die tweede kwart het Madibaz gekwel en hul probleme is vererger toe hul sleutelspeler, Kelly du Toit, ‘n enkelbesering opgedoen het. Maties het teen rustyd met 20-13 voorgeloop.
In die derde kwart het Maties op hul sterk punte voorlangs gekapitaliseer met dodelike skote van die uiteindelike speler van die wedstryd, Hannah Kriel, wat met pragspel van die sirkelrand gevoer is.
Aan die einde van die voorlaaste kwart het die Maties met 31-21 voorgeloop.
In die laaste 15 minute het die span van Stellenbosch aangehou om die telbord te verbeter met goeie onderskeppings en kalm en stewige verdediging deur Bianca Odendaal en Kabuya.
Ten spyte van ‘n laat poging deur die Madibaz, het die fluitjie geblaas met Maties wat die oorwinning gevier het.




