Die tweede seisoen van die Endler-konsertreeks word van Augustus tot Desember in die Universiteit Stellenbosch (US) se Konservatorium aangebied.
Die seisoen bou voort op ‘n sterk tradisie van musikale uitnemendheid en plaas die kollig op kragtige samewerking – plaaslik sowel as internasionaal en intertersiêr – met ‘n besondere fokus op vokale uitvoering. Gehore kan tussen Augustus en Oktober na voortreflike vermaak uitsien.
Dit begin môre (Vrydag 1 Augustus), met die bekende pianis José Dias wat The Chopin Project I: The Piano Concertos saam met die Selene-strykkwartet en kontrabas-speler Zanelle Britz bekendstel. Die konsert bied ‘n intieme ervaring van Chopin se meesterwerke in ‘n verwerking vir klavier en strykkwintet. Hierdie vernuwende konsert is die begin van ‘n reis om Chopin se volledige oeuvre te verken en op te neem.
Sondag (3 Augustus) bied die US-kamer-koor sy lang verwagte galakonsert onder leiding van Lunathi Ncamani en Martin Berger met Afrika-koormusiek, klassieke meesterwerke en eietydse werke aan.
Die vokale uitnemendheid gaan voort met Schubert se geliefde “Die schöne Müllerin”, met die internasionaal erkende Suid-Afrikaanse tenoor Thomas Erlank en die bekroonde pianis Tinus Botha aanstaande Vrydag (8 Augustus). A Songmaker’s Journey volg hierop, met die sopraan Marie Vassiliou, ‘n professor in sang aan die Royal Academy of Music in Londen, en die pianis Nicolene Gibbons. Die program, wat op Woensdag 13 Augustus aangebied word, strek oor Duitsland, Frankryk, Italië en die Amerikas.
Die US-koor keer op Vrydag 15 Augustus triomfantlik terug ná sy onlangse sukses by die 2024-Wêreldkoorspele in Denemarke, waar die koor verskeie goue medaljes losgesing het. Die koor, onder leiding van André van der Merwe, beloof ‘n inspirerende aand van lewendige optredes.
Die sterk tradisie van intertersiêre samewerking word op Saterdag 16 Augustus gevier met die jaarlikse US en die Universiteit van Kaapstad-klavieruitruil, getiteld Invitation to the Dance, waar die klavierafdelings van die twee universiteite se South African College of Music dans-geïnspireerde werke aanbied.
Nog ‘n boeiende vennootskap is dié tussen Opera UCT en die US-sangafdeling, wat op Maandag 25 Augustus saam die Suid-Afrikaanse kunslied vier, met prof. Jeremy Silver op klavier.
Ander uitstaande vertonings sluit in die USSO-jeugkonsertfees op Donderdag 4 September met die Konservatorium se voorste studentesoliste, onder leiding van Rik Ghesquière, buitengewone professor aan die US departement musiek en voormalige dirigent van die Brussels Philharmonic Youth Orchestra.
• Besoek Webtickets vir kaartjies en die program.





